

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 September 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Bewaarder van die Departement Korrektiewe Dienste op Louis Trichardt, Robert Marindi (35), is verlede Vrydag in hegtenis geneem, nadat hy verantwoordelik was vir 'n ongeluk waarin die 46-jarige mev. Elize Hall oorlede is.
Die ongeluk het Vrydag omstreek 18:00 op die hoek van Joubert- en Kroghstraat plaasgevind. Mev. Hall was ten tye van die ongeluk saam met haar man, Jan, in die voertuig.
'n Emosionele mnr. Hall het Woensdag vertel dat hy net naweke huis toe gekom het vanweë werksverpligtinge op Tzaneen. Hy en Elize het kort na sy aankoms besluit om gou dorp toe te ry en was onderweg huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het. Hy sê dat hy vanuit Joubertstraat by die kruising gestop het en in die proses was om die kruising oor te steek, toe Marindi vanuit Kroghstraat in hulle vasgejaag het.
"Ek en Elize was besig om te praat … ek kan nie eers onthou waaroor nie. Die volgende oomblik het Elize net gesê 'Die kar gaan nie stop nie.' Al wat ek kan onthou was 'n harde slag en toe ek bykom het Elize buite die kar gelê," sê mnr. Hall.
Marindi, wat na die ongeluk vanaf die toneel weggestap het, is sowat 'n uur later by Werda Motors aangekeer. Hy het gesit en was nie in staat om te loop nie. Volgens die polisie beweer Marindi dat hy na die ongeluk homself in 'n straat bevind het en nie kan onthou hoe hy daar gekom het nie.
Marindi het Maandag (2de) in die plaaslike landdroshof verskyn op 'n klag van strafbare manslag en dronkbestuur. Hy is op R1 000 borgtog vrygelaat en sal weer op 10 Oktober in die hof verskyn.
Wyle mev. Hall, wat vir die afgelope paar jaar werksaam was by M-Kontrei, word oorleef deur haar man, kinders, Arnel, Colette, Riaan en Barney en vier kleinkinders. Sy word Vrydag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt begrawe.

ADVERTISEMENT:
