ADVERTISEMENT:

 

Neil Muller met sy rugsak op by sy fiets waarmee hy deur Suid-Afrika toer van die een spoorwegstasie na die ander. Hy het Dinsdag in Makhado (Louis Trichardt) oornag. Hy sou na verwagting Vrydag sy treintoer by Beitbrug afsluit.

Neil voltooi epiese avontuur

 

News  Date: 28 September 2012

 

Vir dié met ‘n paar jare agter die blad sal treine en spoorlyne altyd herinneringe van slaap- en troepetreine oproep, so ook van spoorwegstasies met restaurante wat altyd mash, gravy en pies  verkoop het.

Vir Kapenaar Neil Muller het treine en treinry nog altyd ‘n  spesiale bekoring ingehou. Soveel so dat hy op 2 Junie besluit het om al die pad van Kaapstad tot by Beitbrug te stap en so by verskillende spoorwegstasies aan te doen.

Sowat 600km in sy avontuur in het Neil darem ‘n fiets aangeskaf.

“Hoofsaaklik vir veiligheidsredes, maar moeë voete vol blase was ook 'n groot motiveerder,” vertel Neil, wat Dinsdag, ná 2 700km,  in Makhado (Louis Trichardt) aangekom het.

Sy doelwit is om die publiek bewus te maak van die noodsaaklikheid van 'n goeie spoorvervoerstelsel. Dié idee het by Neil pos gevat nog lank voordat hy ‘n berig gelees het van Transnet se planne om 300 spoorwegstasiegeboue te sloop.

Neil en vroulief Marlene het sowat vier jaar gelede by ‘n restaurant in Namibië geëet. Die restaurant was toevallig naby die lighuistoring in Swakopmund. Daar en dan het hulle besluit om ‘n toer te doen van al Suid-Afrika se lighuistorings.

Terug by die huis het hulle so te sê dadelik begin beplan om nog ‘n toer te doen van al Suid-Afrika se spoorwegstasiegeboue. Werksverpligtinge het egter kort voor die egpaar se vertrek veroorsaak dat Marlene by die huis moes bly.

Neil se toer het hom tot dusver verby 90 stasiegeboue gevat, om nie eers te praat van al die ongelooflike dorpies waardeur hy met sy fiets van dag tot dag getrap het nie.

“Dit is ongelooflik,” vertel Neil. Alhoewel hy voel sy toer fokus dikwels op die negatiewe, meen hy dat dit van hom ‘n meer positiewe mens maak. “Daar is nog goeie mense in hierdie land. Ek ervaar dit uit die behandeling en gasvryheid wat ek elke dag ontvang by wildvreemde mense.”

Tog was daar ook tye wat dit bietjie swaar gegaan het met Neil. Hy onthou spesifiek een dorpie, Kaap se Hoop, waar hy oornag het. ‘n Idilliese plekkie, vertel Neil, maar die pad tot daar - nie so idillies nie.

“Die eienaars van die gastehuis het gesê ek draai af tussen Watervalboven en Nelspruit  en dan sal ek ‘n 'klein' opdraande kry,” vertel Neil. “Ek het drie ure gestoot aan ‘n 12km opdraende! Teen die derde uur het ek begin bid, maar wat ‘n ervaring! Dis pragtig daar, definitief ‘n hoogtepunt van die toer.”

En sy gunsteling spoorwegstasie? Beslis Modderpoort se stasie. Verrinneweer of nie, Neil het dadelik verlief geraak op die Engelse boustyl van die stasie.

Intussen sal Neil sy toer, na verwagting, Vrydag afsluit met sy aankoms by Beitbrug. Van hier sal hy per trein na Bulawayo reis om te bepaal of hulle treinstelsel beter of slegter daaraan toe is as dié van Suid-Afrika. Verder beplan hy 'n lekker-lees boek oor al sy wedervaringe en om met nuwe planne vorendag te kom om treinvervoer in Suid-Afrika te bevorder.

“As ons treinvervoer se beeld kan bevorder, sal ons padvervoer kan verminder.”

Vir dié wat belangstel om Neil se dagstukkies te volg, besoek sy webblad by www.opsporetussenstasies.weebly.com. Hy het ook ‘n Facebook-profiel onder die naam Free Range Africa.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines