ADVERTISEMENT:

 

Die 18-jarige Mariska Kruger en haar ma, Adri, met die bondel lappe wat hulle van Viljoen gekry het as “matriekafskeidsrok”. Dit is wat hulle vir hul R3 500 gekry het.

Matriekdroom aan flarde

 

News  Date: 28 September 2012

 

Haar droom van ‘n sprokiesmooi rok vir haar matriekafskeid lê aan skerwe, en dit wat veronderstel was om die hoogtepunt van haar finale jaar op skool te wees, het ontaard in ‘n nagmerrie.

“Hy het my valse hoop gegee. Kort-kort het hy vir my gesê hy is al ver met my rok en dit lyk baie mooi ... Elke keer was dit sy storie, maar elke keer was hy niks verder met my rok nie.”

So vertel die agtienjarige Mariska Kruger van Makhado (Louis Trichardt). Sy verwys na die 35-jarige Nicky Viljoen van Chillypea Bridal Couture, ‘n plaaslike rokmaker, aan wie haar ouers duisende rande betaal het om vir haar ‘n matriekafskeidrok te maak. In ruil het hulle ‘n bondel lappe gekry wat met kopspelde vasgesteek is.

“Oom, sê vir hulle dit is nie my rok nie ... netnou dink hulle dit is ek wat sulke swak smaak het,” was Mariska se herhaaldelike pleidooi aan die koerant, opmerklik skaam vir die bondel lappe in haar hande.

Ma Adri wys ‘n afskrif van die kontrak wat hulle moes teken vir die maak van die rok:“1 x pleated draped with veiling and crystal bead detail corset and covered button detail. Total cost: R4 500,” lees die dokument. Die voltooiingsdatum was einde Augustus.

Einde Augustus het gekom en gegaan, maar geen rok nie. “Ek kan nie onthou hoeveel keer ons by hom was om te gaan pas nie. Elke keer het hy ‘n verskoning gehad of het hy die afsprake gekanselleer,” vertel Adri. Gelukkig het sy ‘n R1 000 teruggehou op die finale betaling.

Viljoen se onvermoë om met Mariska se rok vorendag te kom, het die laaste drie weke tot erge konfrontasie gelei tussen hom en die Krugers. Dit het Adri sowat twee weke gelede genoop om haar frustrasie met die Zoutpansberger te kom deel, veral toe dit aan die lig kom dat daar ook ander matriekmeisies is,  asook ‘n vrou wat op trou staan, wat sukkel om hul rokke uit Viljoen te kry. Alle navrae en versoeke tot kommentaar van die koerant se kant af, wat ingesluit het ‘n e-pos, twee SMS'e en ‘n boodskap op Viljoen se selfoon, is egter deur hom geïgnoreer.

Die geskil oor die klaarmaak van Mariska se rok het Saterdag breekpunt bereik toe Adri, met die polisie en haar regsadviseur, mnr. Zubair Moosa, aan haar sy, by Viljoen se woning opgedaag het om die rok op te eis. Instede van Mariska se droomrok, het hulle ‘n aanmekaargeflanste bondel lappe gekry, en dit minder as ‘n week voor Mariska se groot aand. Kort voor Adri daar opgedaag het, het ‘n vrou wat die volgende dag moes trou, ook haar onvoltooide rok kom opeis. Daar was ook ‘n vrou wat gewag het vir haar matriekdogter van Tzaneen se matriekafskeidrok, alhoewel haar dogter haar matriekafskeid die vorige aand reeds gemis het, omdat haar rok nie klaar was nie.

Dit was die finale strooi en Adri is reguit polisiestasie toe om ‘n klag van diefstal onder valse voorwendsels teen Viljoen te lê. Hy is gearresteer en vir die res van sy langnaweek toegesluit. Hy is Dinsdag vanaf die polisieselle gebring vir sy hofverskyning, waartydens hy op borgtog van R300 vrygelaat is en sy saak uitgestel is tot 16 Oktober.

Die saak teen Viljoen blyk ‘n moeilike een te wees en die vraag kan gevra word of sy arrestasie op grond van ‘n kriminele klag geregverdig was, aangesien daar geargumenteer kan word dat sy onvermoë om die rok(ke) te voltooi bloot neerkom op kontrakbreuk, wat ‘n siviele aangeleentheid is.

Moosa het Dinsdag gesê dat hy Saterdag vir Adri hieroor geadviseer het en gevra sy moet besluit wat sy wil doen. “Sy [Adri] het besluit om ‘n kriminele klag te lê, want sy het gevoel dit was vanaf die begin sy [Viljoen] se intensie om haar uit haar geld te bedrieg,” het Moosa gesê. Hyself voel ook dat Viljoen se optrede ‘n kriminele klag regverdig het, want volgens hom is daar ‘n patroon.

“Die feit is dat die rokke nooit gemaak is nie. Hierdie [Mariska se rok] is nie ‘n geïsoleerde geval nie. Dit het met ander mense ook gebeur,” het Moosa gesê.

“Ek het begrip vir hulle [die Krugers] se emosionele toestand, maar uit ‘n suiwer juridiese oogpunt is dit my mening dat hulle ‘n sivielregtelike eerder as ‘n strafregtelike roete moes volg,” het mnr. Charles Pieterse, Viljoen se prokureur, Woensdag gesê. Hy het verduidelik dit is soos ‘n kliënt wat ‘n boukontrakteur aanstel om sy huis binne ‘n sekere tydperk te bou. Sou die kontrakteur nie binne die kontraktydperk die huis kan voltooi nie, moet hy boetes betaal.

“Beteken dit nou dat alle boukontrakteurs wat nie betyds ‘n huis kan klaar bou nie, gearresteer moet word?” het Pieterse gevra. Hy het bygevoeg dat, volgens Viljoen, hy nie die rokke kon klaarmaak nie weens sy werkslas en huidige persoonlik omstandighede.

Intussen is Mariska besig om die skerwe van haar drome weer bymekaar te skraap. Al haar en haar ma se hoop is nou dat die plaasvervanger rok, wat teen groot ekstra koste bestel is, betyds sal wees vir Mariska se matriekafskeid eerskomende Vrydagaand.

Die fyn lyn tussen sivielregtelike en strafregtelike optrede is plaaslik die bron van talle klagtes wat by die Zoutpansberger opeindig. Een geval is veral noemenswaardig. Die afgelope paar maande is talle klagtes ontvang van inwoners wat beweer hulle is ingedoen deur ‘n man wat homself uitgee as ‘n lugversorgingstegnikus en –installeerder.

Volgens die klaers word hulle in ‘n kontrak met die man ingelok weens die bekostigbare kwotasies wat hy gee vir die koop, installering of herstel van lugversorgers. In alle gevalle is ‘n groot deposito betaalbaar en in al die gevalle word òf verkeerde, sub-kwaliteit, tweedehandse lugversorgers òf stukkende lugversorgers deur die man voorsien. Herstelwerk word ook nie na wense, of glad nie, verrig nie en in omtrent al die gevalle verloor die inwoners al hulle geld. Dit is buiten hul ekstra koste om professionele mense in te kry om die man se brouwerk te kom regmaak. Telkens is die klaers gevra waarom hulle nie ‘n saak maak teen die man nie en telkens was die antwoord dat hulle òf jammer voel vir die man, òf dat hulle nie bereid is om meer te bestee op regskoste as wat hulle aanvanklik aan die man betaal het nie.

Wat die matriekafskeidrok-saga betref, was dit ook net die Krugers wat bereid was om met die koerant te praat en ‘n kriminele klag by die polisie te lê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines