

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2012
Moet voetgangers in Makhado (Louis Trichardt) nou in die middel van die pad loop of oor die rommelhope op die sypaadjie struikel?
Die slakkepas-padwerke in Andersonstraat kry maar net nie einde nie. Die rede word aangegee as die nie- betaling van die kontrakteur deur die kliënt, die Makhado Munisipaliteit.
Intussen is die rommel van die padwerke op die sypaadjies van so ‘n aard dat baie voetgangers nou maar in die middel van die straat loop. ‘n Groepie skoolmeisies het Dinsdag die sypaadjie aangedurf en so amper het een neus eerste in die hoop sement randstene beland.
Die straat word daagliks deur sowat 800 leerders gebruik, ongeag of hulle vervoer word en of hulle die straat as voetgangers gebruik. Die opgehoopte grond by die middelmannetjie vorm hoë, onaantreklike hope. Die grond en ongebruikte randstene op die sypaadjies maak dit onbegaanbaar. Om in die straat self te stap is ook nie ‘n veilige oplossing nie, weens die gevaar om deur motoriste raakgery te word.
Nadat die padoppervlakte geteer is vlak voor die Kremetart fietswedren in Junie vanjaar, is daar in die laaste week van Augustus vir die soveelste keer met die randsteenwerke begin. Dit was net mooi ‘n jaar nadat daar met die padwerke begin is. Hierdie week is waargeneem dat die middelmannetjie se randstene voltooi is, sowel as die grootste gedeelte van die randstene aan die skool se kant (westekant) van die dubbelrylaan. Aan die woonhuise se kant (oostekant) is die randstene nog in ‘n halfklaar staat.
Sowat vier weke gelede het ingenieur mnr. Pieter Meiring van Dombo en Du Plessis Raadgewende Ingenieurs gesê dat, as alles goed gaan, die werk aan Anderson- en Munnikstraat binne vier weke klaar kon wees.
Dinsdag het ‘n moedelose Meiring gesê dat dit maar “vrotterig” met die projek gaan. “Die kontrakteur en subkontrakteurs is nie onwillig om die werk klaar te maak nie. Hulle wil net betaling hê vir werk wat hulle alreeds, teen groot onkoste, klaargemaak het. Die stadsraad betaal nie,” het Meiring gesê.
Op ‘n vraag wanneer die publiek weer vordering sal kan sien met die padwerke, het Meiring geantwoord, “Wanneer die kliënt vordering toon met die geld wat betaal moet word.” Die munisipaliteit het onlangs met die hoofkontrakteur ‘n vergadering gehad en daar is sprake dat betaling teen November kan plaasvind.
“Sodra daar betaling is, kan Anderson- en Munnikstrate seker binne drie weke afgehandel word, want daar is ongeveer nog drie weke se werk oor,” het Meiring gesê.
Die verf van die pad by stoptekens is ook deel van die kontrakteur se werk. By die ongemerkte kruising van Munnik- en Bredastraat het talle motorongelukke, waaronder een met ernstige beserings, plaasgevind. Na volgehoue druk deur die gemeenskap, het die Makhado Munisipaliteit verlede week self waarskuwingslyne by hierdie kruising aangebring en die letters geverf. Anderonstraat is steeds ongemerk, met die verdere gevaar dat voetgangers nou in die straat self loop. Meiring het gesê dat hy met die hoofkontrakteur sal praat om te hoor of hulle nie die rommel kan verwyder nie
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
