

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2012
In sekere dele van die land mag daar dalk ‘n afname wees in misdaad, maar inwoners van Makhado (Louis Trichardt) het steeds geen rede om met oop vensters en deure te slaap nie.
Dit is volgens die jongste nasionale misdaadsyfers, vir die oorsigperiode 1 April 2011 tot 31 Maart 2012, wat verlede week bekendgemaak is.
Moordsyfers het gedurende hierdie tydperk ‘n geringe styging getoon van drie na vyf gevalle in Makhado (Louis Trichardt), van vier na vyf gevalle in Levubu en van 10 tot 13 gevalle in Musina.
In teenstelling hiermee was daar ‘n groot toename in geweldsmisdade, asook diefstal, roof en huisbraak.
Gewapende huisroof het ‘n dramatiese toename getoon. In Makhado (Louis Trichardt) styg hierdie syfers in die oorsigtydperk van sewe tot 13 gevalle, terwyl Levubu en Musina se syfers onderskeidelik van nul tot agt gevalle en van 14 tot 38 gevalle styg.
Gewone huisbrake het net so dramaties toegeneem. Makhado (Louis Trichardt) het die grootste toename getoon, met huisbrake wat van 113 na 169 gevalle styg, terwyl Levubu se syfers van 55 tot 83 gevalle styg. In Musina daal hierdie syfers van 94 na 75 gevalle.
Volgens die misdaadsyfers is ondernemings swaar getref in die oorsigtydperk. Inbrake by sakepersele in Makhado (Louis Trichardt) styg van 192 tot 232 gevalle, terwyl Levubu se gevalle van 154 tot 167 gevalle styg. Musina toon ook hier ‘n klein afname, met hul syfer wat van 234 na 222 gevalle daal.
Die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, het na aanleiding van die jongste misdaadsyfers, wat nasionaal ‘n geringe afname getoon het, die publiek aangemoedig om misdrywe te alle tye aan te meld. Hy het ook gevra dat die publiek moet ophou om ‘n mark te skep vir gesteelde goedere en dat hulle moet aansluit by hul plaaslike buurtwag.
Alhoewel seksuele misdrywe ‘n geringe afname getoon het in die oorsigperiode, was die nasionale syfer hiervoor steeds rede tot kommer vir Mthethwa.
Ten spyte van ‘n geringe nasionale afname, styg die syfer vir seksuele misdrywe in Makhado (Louis Trichardt) van 40 gevalle na ‘n ongelooflike 145 gevalle in die oorsigperiode, terwyl Levubu se syfers van 50 na 63 styg. Weereens toon Musina se syfers ‘n klein afname van 75 na 72 gevalle.
“Ons moet beklemtoon dat ons, as die regering, steeds bekommerd is oor die vlaag van verkragtings oor die land heen. Verkragting het met 1.9% gedaal, maar dit is steeds onaanvaarbaar hoog,” het Mthethwa gesê. Volgens hom word meer hulpbronne en beter opleiding aan polisielede beskikbaar gestel om met hierdie misdade te werk.
Nog ‘n misdaad wat in Makhado (Louis Trichardt) ‘n toename getoon het, was veediefstal. Die aantal gevalle styg in die oorsigtydperk van 25 na 40 gevalle. In Levubu daal veediefstal van nege na sewe gevalle, terwyl dit in Musina styg van 12 na 16 gevalle.
In sy samevatting van die misdaadsyfers het Mthethwa gesê dat daar oor die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak is ten opsigte van misdaadbekamping. “Maar ons is nog nie daar nie. Net met die deelname van alle sektore van die samelewing sal ons die gety teen misdaad kan draai. Ons moet die stryd teen misdaad wen, ongeag in watter vorm dit mag manifesteer,” het Mthethwa gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
