ADVERTISEMENT:

 

'n AfriForum afvaardiging het die nuwe munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, op 28 September in sy kantoor ontmoet. Verskeie knelpunte is bespreek, waaronder die opruim en verfraaiing van die voëlpark en boompark. Van links, kloksgewys, is mnr. Mutshinyali en die AfriForum afvaardiging, bestaande uit mnr. Lampie Schoeman (addisionele lid), mnr. Herman Smith (ondervoorsitter) en mnr. Wally Schultz (voorsitter).

Is daar hoop vir die dorp se boompark?

 

News  Date: 05 October 2012

 

Gaan Makhado (Louis Trichardt) se voëlpark en boompark een van die dae beter lyk?

Dit is moontlik, nadat AfriForum die nuwe munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, ontmoet het en die opruim en verfraaiing van die voëlpark en boompark as ‘n gesamentlike projek voorgestel het.

‘n AfriForum afvaardiging, bestaande uit die voorsitter , mnr. Wally Schultz, die ondervoorsitter, mnr. Herman Smith en addisionele lid, mnr. Lampie Schoeman, het op 28 September die geleentheid gehad om ‘n vergadering met die munisipale bestuurder in sy eie kantoor te hou.

Smith het gesê dat hulle ‘n trekker, skraper, arbeid en grassnyer sal benodig. Die doel is om die gedeeltes naby die N1 op te ruim en aantreklik te kry sodat die dorp aanloklik vir investering kan wees.

Mutshinyali, wat alreeds getoon het dat hy ‘n persoon van aksie is, het dadelik ingestem en wou summier ‘n datum vir die opruiming vasstel. Die vergadering het besluit dat die vasstelling van die datum sal volg op ‘n amptelike  brief van AfriForum aan die munisipaliteit in dié verband.

Ander onooglikhede wat genoem is, is die park oorkant die Caltex motorhawe waar haweloses hul wasgoed bo-oor vullishope laat droogword, asook die straatverkopers en haweloses by Eltivillas naby die N1. Schoeman het voorgestel dat borde wat aandui dat daar geen oornaggeriewe vir swaarvoertuie in die dorp is nie, net buite die dorp aangebring word.

“Ons is lief vir hierdie dorp en ons is baie ernstig daaroor om ‘n verskil te maak, maar hierdie dorp is in ‘n gemors: die infrastruktuur kan nou enige oomblik totaal in duie stort,” het Schultz gesê.

Mutshinyali  het heeltmal saamgestem oor die belangrikheid van die dorp. “Ek glo daaraan om aandag aan  die dorp te gee en die beste diens vir die dorp se inwoners te lewer, want hulle help met die res (buitewyke),” het die munisipale bestuurder gesê.

Onvoltooide take is ook genoem. Mutshinyali het gesê dat hy poog om rond te ry en waar te neem waar gate byvoorbeeld nie weer toegemaak word nie. By die werk aan die kruising van Munnik- en Joubertstraat het hy die werkers teruggeroep en gesê dat hulle die gat weer moet toemaak. Die vraag ontstaan onwillekeurig waar die tegniese direkteur in hierdie prentjie is.

Schultz het die gebrekkige kommunikasie geopper en gesê dat dit baie moeilik is om akkurate inlgting van die munisipaliteit se kant te kry. Hy het beklemtoon dat dit nie net ‘n groepie witmense is wat ongelukkig is oor dienslewering nie, maar dat die mense van Tshikotha en elders ook kla.

AfriForum het die munisipale bestuurder aangespoor tot sterk optrede. Schoeman het die munisipaliteit met ‘n skip vergelyk. “Hierdie skip is gebou vir dienslewering. Hierdie skip het ‘n kaptein nodig. Raak ontslae van die seerowers en kry seemanne  terug op die skip. Wees ‘n sterk kaptein,” het hy gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines