ADVERTISEMENT:

 

Laerskool Louis Trichardt, wat al 106 jaar oud is, het op 27 September ‘n vrolike en kleurvolle optog gehou om gebeure van ‘n halfeeu gelede te herdenk. Dié gebeure was die trek van die skool na die huidige geboue in 1961 en die ingebruikneming van die sportgeriewe in 1962.

Skool herdenk “groot trek” van 1961

 

News  Date: 05 October 2012

 

Laerskool Louis Trichardt, wat al 106 jaar oud is, het op 27 September ‘n vrolike en kleurvolle optog gehou om gebeure van ‘n halfeeu gelede te herdenk.

Dié gebeure was die trek van die skool vanaf die geboue op die hoek van Krogh- en Erasmusstraat (waar Nictus tans geleë is) na die huidige geboue in 1961 en die ingebruikneming van die sportgeriewe in 1962.

Die hele skool het gestap, asook sommige oud-leerlinge wat self in 1961 aan die “groot trek” deelgeneem het, waar die leerlinge die skoolmeubels na die nuwe skoolgebou help dra het. Met die terugstap na die skool het die mans elkeen ‘n stoeltjie gedra om dié trek te gedenk.

Raadslid Jackie Underwood het by die verrigtinge in die parkeerarea van die Nictus-perseel die skool toegespreek. “Onderwys en opvoeding is die sleutel na ‘n gelukkige en suksesvolle toekoms. Dit begin alles in die klaskamer en op die speelgrond met die hulp van toegewyde onderwysers. Ons respekteer hulle vir hulle harde werk en die groot verantwoordelikheid wat op hulle rus om ons kinders te bemagtig,” het Underwood gesê.

Sy het ook verwys na die nuwe tye waarin ons kinders leef. Vyftig jaar gelede was daar nog nie rekenaars, televisie en selfone nie. “Maar iets wat glad nie verander het nie, is dat kinders, net soos 50 jaar gelede, elke dag skool toe kom om te ontdek waaroor die lewe gaan en om meer van verskillende kulture te leer, om te leer hoe om mekaar te respekteer en om te leer om somme te doen en hoe om korrek te spel,” het Underwood gesê. Sy het verwys na al die gemeenskapsleiers wat al uit Laerskool Louis Trichardt se geledere voortgekom het.

Die drie Erasmus-broers, Pieter, Willie en Wiekie, was onder die oud-Triegies wat teenwoordig was. Hulle ouers het op Mara Navorsingstasie gewoon.  Mnr. Willie  Erasmus het namens die oud-Triegies die woord  by die Nictus parkeerterrein gevoer en aan die kinders gesê dat hulle presies daar staan waar die klaskamers voorheen was. Die ander oud-Triegies was mnr. Andro Fourie, me. Heleen Fourie, me. Meisie van Wyngaardt (née Schwan), mnr. Dopper Kruger en me. Joey Pavier (née Strydom). Hulle kon lekker oor die ou dae, die onderwysers en dié se byname, asook hul eie byname, gesels. So het mnr. Martiens Kruger se bynaam, Dopper, wat hy by 'n onderwyser, mnr. Apie Verreyne, gekry het, by almal vasgesteek.

By ‘n funksie vir die oud-Triegies het die skoolhoof, mnr. Louis Linde, genoem dat alles wat by die skool bereik is, genade van die Here af is. Die volgende dag het 'n kermis en boeresport die vieringe afgesluit.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines