

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 August 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Staatspasiënt, wat weens chroniese nierversaking ernstige asemnood ontwikkel het en dringend vir spesialisbehandeling na die Pietersburghospitaal afgevoer moes word, het vir meer as 'n week in Louis Trichardt in die hospitaal gelê, waar hy aanvanklik as 'n asmapasiënt behandel is.
Die Louis Trichardt Gedenkhospitaal is nou reeds vir bykans twee maande sonder 'n toesighoudende mediese superintendent, met net twee onervare diensplig dokters aan diens.
Een van die hospitaaldokters het die pasiënt vir bykans 'n week lank in die hospitaal op Louis Trichardt behandel, sonder om kennis te neem van die lys van medikasie wat die pasiënt daagliks op voorskrif van 'n spesialis van Ga Rankuwahospitaal se niereenheid moes gebruik. Die medikasielys was prominent voor in die pasiënt se hospitaallêer.
Die ander permanente hospitaaldokter, wat die pasiënt tydens die krisis opgeneem het, is ingelig van die noodsaaklikheid om die pasiënt so gou as moontlik na spesialisbehandeling te bring en van die naam en selfoonnommer van die spesialis wat geraadpleeg behoort te word in die behandeling van die pasiënt.
Die pasiënt is toe aan die ander hospitaaldokter oorgedra, wat hom 'n week lank op Louis Trichardt behandel het, sonder om enige aanstaltes te maak om hom na die Pietersburghospitaal oor te plaas.
Toe die dokter se aandag daarop gevestig is dat die pasiënt reeds drie keer in die hospitaal geval het, nadat hy van lighoofdigheid gekla het, het die dokter gesê sy sal die pasiënt opdrag gee om in sy bed te bly. Sy was erg verbaas toe haar aandag daarop gevestig is dat die pasiënt reeds medikasie vir sy niere op voorskrif van die spesialis gebruik en dat sy lighoofdigheid dalk verband kan hou met die moontlikheid dat hy nou dubbele dosisse van dieselfde medikasie ontvang.
Die spesialis, wie se naam en selfoon nommer vooraf aan die hospitaaldokter verskaf was, het by navraag gesê dat niemand van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal met hom in verbinding was oor die pasiënt nie.
Die lewering van dialise-oplossing, aan die pasiënt wat op peritoneale dialise was, is intussen kort voor die krisis eensydig deur dieselfde spesialis van Ga Rankuwa se niereenheid opgesê, sonder dat hy vasgestel het wat die status van die pasiënt was.
Toe die krisis onder sy aandag gebring is en hy versoek is om te reël vir die hervatting van die lewering, het hy gesê tussentydse voorrade kan by die hospitaal op Ga Rankuwa (meer as 400km vanaf Louis Trichardt) afgehaal word. Permanente hervatting van die lewering sou volgens hom net oorweeg kon word as iemand van Louis Trichardt af die pasiënt se lêer by Ga Rankuwa hospitaal kon trek en dit na hom (die spesialis by Ga Rankuwa) bring. Hy het geen navraag gedoen na die toestand van die pasiënt nie. Hy het verduidelik dat hy die lewering opgesê het, omdat die pasiënt nie meer die gereelde nierkliniek by Ga Rankuwa bygewoon het nie.
Toe dit onder sy aandag gebring is dat 'n reëling deur die vorige mediese superintendent van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, Dr. Numbi, met Ga Rankuwa getref is dat die maandelikse moniteringstoetse van die pasiënt op Louis Trichardt gedoen sou word en sy medikasie dan na konsultasie met Ga Rankuwa aangepas sou word, het die spesialis ontken dat daar so 'n reëling was of dat sulke maandelikse konsultasies ooit plaasgevind het. Die reëling is getref omdat die pasiënt nie die maandelikse ritte na Ga Rankuwa kon bekostig nie en die hospitaal sy ambulansvervoer gestaak het.
Dr. Numbi, wat etlike maande gelede die hospitaal op Louis Trichardt verlaat het om 'n pos in 'n ander provinsie op te neem en nog nie vervang is nie, het by telefoniese navraag bevestig dat so 'n reëling in die laaste helfte van 2001 met die betrokke spesialis getref is, weens die staking van ambulansvervoer vir chroniese staatspasiënte vanaf die hospitaal.
Artikel 11 van die Departement van Gesondheid se amptelike "Verklaring van Pasiënte Regte" gee die versekering dat geen mediese inrigting wat begin met die versorging van 'n pasiënt, daardie pasiënt se voortgesette versorging sal staak of versaak nie. Die pasiënt het Sondagmiddag, 11 Augustus, omstreeks 15:00 in die Pietersburgse Provinsiale hospitaal gesterf.
Intussen het die hoof gemeenskapskakelbeampte van die Departement Gesondheid op Louis Trichardt, mnr. N.Z. Kutama, by navraag gesê die aanstelling van 'n mediese superintendent op Louis Trichardt word nou as uiters dringend hanteer. Hy sê die aangeleentheid is verlede week op 'n dringende vergadering in die Streekkantoor van die Departement in Thohoyandou bespreek. Op die vergadering is besluit om onmiddellik die nodige stappe te neem om die pos te adverteer en te vul. Mnr. Kutama sê 'n aanstelling kan daarna binne sowat drie tot vier weke verwag word. Hy sê toesig oor die hospitaal se dokters op Louis Trichardt word intussen behartig deur die superintendent by die Elim Hospitaal, dr. Lakana, wat die plaaslike hospitaal gereeld vir dié doel besoek.

ADVERTISEMENT:
