ADVERTISEMENT:

 

Nicky Viljoen.

Nog kla oor rokke wat nie betyds gemaak word nie

 

News  Date: 08 October 2012

 

“Dit was asof ek met ‘n dooie mens gepraat het.”

So het nog 'n bruid, wat binnekort op trou staan, vertel oor haar nagmerrie ondervinding met Nicky Viljoen van Chillypea Bridal Couture.

Die 23-jarige Marika Nel het verlede week haar storie aan die Zoutpansberger vertel nadat sy ook ‘n klag van diefstal onder valse voorwendsels teen Viljoen gaan lê het. Nel, wat in November gaan trou, het R9 000 aan Viljoen betaal om haar droom trourok te ontwerp.

Al wat sy nou het om daarvoor te wys, is die materiaal, wat sy met ‘n groot gesukkel uit Viljoen gekry het. Nel vertel dat sy Viljoen al in Julie betaal het, en sedertdien nooit weer iets van hom gehoor het nie.

Uit pure radeloosheid het Nel later haar vriendin gevra om Viljoen te gaan sien, onder die voorwendsel dat sy ook ‘n rok gemaak wil hê vir haar troue. Nadat hulle vir Viljoen gekonfronteer het, het hy hulle vertel dat hy wag vir materiaal wat hy by sy verskaffers bestel het. Intussen het die tyd genadeloos bly aanstap en Nel se verloofde, Bernardino de Faria, het later spesiaal van Engeland gekom om ook vuur onder Viljoen te maak.

Steeds geen rok nie.

Met die troue so te sê om die draai en Nel wat nog haar finale onderwys-eksamens moet aflê by die Noordwes Universiteit, het die paartjie besluit om hulle op die howe te beroep. Nel het reeds ‘n prokureur aangestel om haar geld te probeer invorder. Dit was nadat sy verlede week van Mariska Kruger in die Zoutpansberger gelees het dat sy besluit het om ook ‘n klag te lê.

Mariska se ma, Adri, het besluit om Viljoen aan te kla nadat hy versuim het om Mariska se rok vir haar matriekafskeid klaar te maak. Hy het ook nie hulle deposito van R3 500 terugbetaal nie. Vijoen is op R300 borg vrygelaat en sal weer op 16 Oktober in die hof op Makhado (Louis Trichardt) verskyn.

Na verlede week se berig het daar ook nog mense van Tzaneen, Lephalale en Phalaborwa na vore gekom om te kla oor Chillypea Bridal Couture se swak diens. Nog drie bruide van Makhado (Louis Trichardt) het ook na vore gekom en vertel van hul wedervaringe. Deposito's van tot R7 000 is betaal.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines