ADVERTISEMENT:

 

Foto: Helene Kruger

Wegholveldbrand rig groot skade aan

 

News  Date: 08 October 2012

 

“Ons het ‘n gemeenskap wat omgee.”

So het mnr. André Kruger, die bestuurder van Stevens Lumber Mills op die Witvlagpad buite Makhado (Louis Trichardt), vandeesweek gesê nadat ‘n verwoestende wegholveldbrand honderde hektaar bosbouplantasies in puin gelê het. Teen Woensdag was dit nog te vroeg om te sê wat die presiese omvang van die skade is, maar Kruger skat dit op miljoene. Van oral het daar egter hulp gekom om die vuur onder beheer te kry.

“As dit nie was vir al die hande en hulp nie, sou dit verseker die einde van bosbou beteken het,” het Kruger vertel. Volgens hom het nagenoeg 150 mense kom help. “Selfs mense wat mens van geen Adamskant af ken nie, het gestop om hulp aan te bied.”

Dié veldbrand het verlede Vrydag ongeveer 10:00 op die plaas Boschdrift in die Pieshanghoek-omgewing begin. Sterk winde het die vuur vinnig laat versprei na van die aangrensende bosbouplantasies.

Talle van die vrywilligers wat gehelp het om die brand te bestry, het regdeur Vrydagnag tot die volgende Saterdagaand vuur geslaan. Teen Saterdag is die hulp van Working on Fire ingeroep, wat ‘n helikopter gestuur het. Later is die hulp van nog ‘n helikopter en ‘n klein vliegtuig gekry om ook te help om die vlamme te blus.

Die boerdery- en sakegemeenskappe van Levubu en Makhado (Louis Trichardt) het hande gevat met inwoners en vrywilligers en gesorg dat daar genoeg kos en water was vir al die brandbestryders.

Gelukkig is niemand deur die loop van die naweek beseer nie. Teen Maandag het dit gelyk of die einde in sig was en die vuurspanne was besig om die area te fynkam om seker te maak dat daar nie nog dele was wat brand nie.

Op Boschdirft is daar ongeveer 450 hektaar afgebrand. Sowat 185 Hektaar van mnr. Neels van der Merwe se plantasies, wat grens aan Boschdrift, het ook afgebrand. Dinsdag moes die spanne inderhaas wéér regstaan toe die vuur weer begin opvlam het en nagenoeg 200 hektaar van Stevens Lumber se plantasie in puin gelê het.

Kruger het Woensdag gesê dat die moontlikheid van brandstigting ondersoek word, maar dat dit nog te vroeg is om die presiese oorsaak van die veldbrand te bepaal.

Teen druktyd was Kruger en die spanne brandbestryders nog besig om seker te maak dat die brand onder beheer is en om die presiese omvang van die skade te bepaal. Kruger het met groot lof gepraat van al die vrywilligers wat die naweek gehelp het en almal bedank wat iets geskenk het of hulp aangebied het.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines