

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 August 2002
LOUIS TRICHARDT - Mnr. Johan Willemse, provinsiale leier van die Vryheidsfront, het hom die afgelope week skerp uitgespreek oor die toenemende probleem van onwettige jag in die streek en die tendens beskryf as 'n vorm van alternatiewe plaasaanvalle.
Mnr. Willemse het verwys na die toenemde probleem van onwettigge jag in veral die Bandelierkop-, Legkraal- en Dendron-omgewing. Hy sê dat alhoewel boere en hul werkers nie direkte teikens in hierdie aanvalle is nie, dit is subtiele poging is om die sekuriteit en ekonomiese stabiliteit van die landbougemeenskap in 'n toenemende mate te ondermyn.
"Gewapen met lang staal spiese wat flymskerp geslyp is en meestal vergesel van jaghonde, betree hierdie aanvallers plase gedurende maanlig-nagte. Alle wild wat deur die sluipers gevind word, word doodgesteek. Van die boere wat jare reeds bewaringsbewus optree, getuig tans van plase waar geen rooibokke of vlakvarke meer voorkom nie. Groter boksoorte en vee is ook blootgestel aan hierdie uitwissingsproses," sê mnr. Willemse.
Mnr. Willemse het bygevoeg dat die stropers oor 'n goed georganiseerde infrastruktuur beskik van onder meer voertuie, selfone en verspieders. Hulle is deeglik ingerig en word met voertuie na vooraf uitgesoekte plase geneem. Sodra die sending voltooi is word die stropers en hul buit met bakkies weggeneem.
Mnr. Willemse sê dat wildstropery met honde eskaleer sedert die insident by Dendron toe wildstropers deur lede van die Noordelikes Rugbyklub van Pietersburg gekonfronteer is, en wat tot die dood van een vermeende wilddief gelei het. Die huidige stropers, sê hy, is sodanig gewapen dat hulle stilweg stroop, maar lewensgevaarlik is vir enige boer wat hulle dalk mag raakloop. Hy het genoem dat dit 'n situasie is wat enige dag mag eindig in die geweldadige dood van 'n mens.
"Die Vryheidsfront in die Noorde wil sy misnoë lug teenoor die Provinsiale Regering wat tot nog toe nie daarin kon slaag om boere se veiligheid te verseker, asook om landelike stabiliteit in hierdie provinsie te bewerk nie. Enige sterfte, hetsy van iemand vanuit die boerderygemeenskap, of van 'n betreder of stroper, sal geag direk die verantwoordelikheid van die Regering van die Dag te wees. Dit is die owerheidsinstellings soos die Suid Afrikaanse Polisiediens se plig om na die veiligheid van alle landsburgers om te sien; 'n plig wat skandelik versaak word hier in die sentrale gedeelte van die Noordelike Provinsie," aldus mnr. Willemse.

ADVERTISEMENT:
