

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 August 2002
LOUIS TRICHARDT – Konstruksie aan 'n nuwe vleuel wat by voltooiing die Makhado Munisipaliteit se Tesourie-afdeling sal huisves, het die afgelope week in alle erns begin.
Die nuwe vleuel, bestaande uit drie verdiepings, sal na verwagting binne die volgende ses maande voltooi wees teen 'n begrote koste van net meer as R4 miljoen.
Konstruksiewerkers het die afgelope week reeds met uitgrawings begin om plek te maak vir die 263m² uitbreiding aan die westelike kant van die bestaande gebou. Die eerste en tweede verdiepings sal dien as publieke betaalkantore ten opsigte van ondermeer heffings en erfbelasting, terwyl die derde verdieping sal dien as kantoor vir die sekretariaat. Aparte publieke ingange word vir die kantore voorsien, wat ook oor 'n huisbak en addisionele ablusiegeriewe sal beskik. Daar word gehoop dat die uitbreiding die betalingsproses dramaties sal vergemaklik tot voordeel van inwoners.
Die huidige Tesourie-afdeling sal na voltooiing van die nuwe vleuel aangewend word vir uitbreiding ten opsigte van die Departement Beskermingsdienste. Addisionele betaaltoonbanke ten opsigte van ondermeer voertuiglisensieëring sal ook hier aangebring word wat ook die betaalproses in dié afdeling sal bespoedig.
Die konstruksie van die nuwe vleuel het tot gevolg gehad dat die parkeerarea voor die munisipale gebou vir 'n periode van minstens ses maande gesluit sal wees. Die Raad het intussen verskoning gevra vir enige ongerief wat daardeur veroorsaak word en genoem dat inwoners gebruik kan maak van die parkeerarea in Erasmusstraat, asook die parkeerspasies in Kroghstraat.
Buiten vir die konstruksie van die nuwe tesourie-afdeling, is die Raad ook in die proses om die Burgersentrum, wat tans dien as raadsaal, op te knap. Sowat R70 000 is vir dié proses geoormerk wat sal insluit die insit van matte, tafels en 'n podium waar die Speaker sal sit. 'n Verdere R130 000 is ook beskikbaar gestel vir die aankoop van 'n nuwe klanksisteem vir die raadsaal. Tans beskik die saal oor 'n stelsel wat totaal ontoereikend is en dit moeilik maak om besprekings ten opsigte van raadsvergaderings te volg.

ADVERTISEMENT:
