

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 August 2002
SCHOEMANSDAL – Die historiese staptog van pater Joaquim de Santa Rita Montanha wat op 25 Mei 1855 vanaf die Mosambiekse hawedorp Inhabane na die nuutgestigde Schoemansdal begin stap het, sal eerskomende Saterdag op unieke wyse herdenk word met die aankoms van prof. Louis Changuion by Schoemansdal.
Pater Joaquim het in 1855 die staptog meegemaak om namens die Portugese regering handels- en diplomatieke-betrekkinge met die Boererepubliek aan te knoop. Sy staptog word tans op unieke wyse herleef deur prof. Changuion wat soos die priester van ouds, dieselfde roete stap met sandale en geklee in 'n priesterskleed kompleet met sy string bedekrale en 'n kruis. Prof. Changuion, 'n bekende historikus en deskundige op die gebied van die Limpopo Provinsie se geskiedenis, het op Woensdag, 31 Julie van Inhabane begin stap en sal eerskomende Saterdag Schoemansdal bereik.
Prof. Changuion sal na verwagting om 12:00 by Schoemansdal arriveer wat 'n einde sal bring aan sy 835 kilometer staptog. Sy aankoms sal met vreugde- en blydskapskote (soos die gewoonte in daardie tyd was) aangekondig word, en sal saamval met die bekendstelling van 'n nuwe geskiedkundige boek oor die orderwerp deur 'n welbekende outeur van die Soutpansberg, prof. Kobus Ferreira. 'n Kopie van die boek sal ook tydens die geleentheid aan prof. Changuion oorhandig word, deur die uitgewer, mnr. Nicol Stassen van Protea Boekhuis. Pater Joachim, oftewel prof. Changuion, sal daarna self aan die woord wees om te vertel van sy wedervaringe.

ADVERTISEMENT:
