ADVERTISEMENT:

 

Vir ‘n geruime tyd beweer slagoffers dat hulle in hul slaap met iets bedwelm word, sodat hulle nie wakker word wanneer daar by hulle ingebreek word nie. Schoeman het hierdie swart brandsel voor een van haar vensters opgemerk, tydens ‘n vorige inbraak in Januarie vanjaar.

Vyfde inbraak begin verhuurder nou baie geld kos

 

News  Date: 12 October 2012

 

Sedert Augustus verlede jaar is daar al vyf keer by haar woonstelkomplek ingebreek, elke keer op dieselfde manier.

“Ek is nou keelvol! Kan die polisie nie hierdie skarminkels vastrek nie?” vra mev. Hester Schoeman, eienaar van die kompleks in Andersonstraat.

“Ek dink dit is dieselfde persoon of persone wat elke keer inbreek. Die diefwering word elke keer op dieselfde manier geknip en na buite gebuig. Hulle steel dan wat hulle kan, terwyl die inwoners telkens rustig slaap,” vertel Schoeman. Sy vermoed die booswigte gebruik een of ander vorm van middel om die inwoners te bedwelm, sodat hulle nie wakker word nie. Buiten haar eie woning wys sy na ‘n swart brandsel op die sementblad voor een van die vensters waar daar in Januarie ingebreek is. In dieselfde maand was daar ook ‘n vlaag soortgelyke inbrake in die nuwe uitbreiding waar slagoffers beweer hulle is eers bedwelm terwyl hulle geslaap het, waarna inbrekers rustig hul huise geplunder het.

“Elke keer kom die polisie uit, maar kry blykbaar geen vingerafdrukke nie. Mens hoor ook nooit weer van die saak nie,” sê Schoeman.

Die jongste inbrake het Sondagaand plaasgevind toe daar sommer by twee woonstelle deur die aand ingebreek is. By een woonstel, sê Schoeman, het hulle presies geweet om nie die diefwering in die slaap- of sitkamer te knip nie, aangesien daar mense slaap. Toegang is verkry deur die badkamervenster. Hier is ‘n skootrekenaar, beursies en selfone gesteel. By die ander woonstel is ‘n vrou se nuwe televisie, handsak en telefone gebuit.

“Hy of hulle vat nie kos nie of krap nie om nie. Hulle weet presies wat hulle wil hê,” sê Schoeman. Sy vermoed hulle hou wonings goed dop of kry hulp van iewers.

Plaaslike polisie woordvoerder kapt. Maano Sadike het Woensdag die jongste inbrake bevestig. Hy het bygevoeg dat die moontlike gebruik van middele om slagoffers eers te bedwelm deel vorm van hul ondersoek.

Intussen, sê Schoeman, ly sy groot finansiële skade weens die inbrake. Buiten die kroniese herstel van beskadigde diefwering, het een van haar huurders na die jongste inbraak dadelik uitgetrek. “Die woonstelle is my belangrikste bron van inkomste. As hulle leeg staan, kry ek nie ‘n inkomste nie,” het Schoeman gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines