

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 October 2012
“Ons is moeg daarvoor om vir lug te betaal,” is ‘n frustrasie wat al hoe meer deur inwoners uitgespreek word.
Die Du Toits van Bredastraat in Makhado (Louis Trichardt) het ‘n videogreep gemaak van hoe die munisipale meter hardloop, terwyl die grond behoorlik dreun wanneer die munisipale water besig is om aan te kom en slegs lug deur die pype stoot.
Die aankoms van die September munisipale rekening het ‘n groot skok vir mnr. PW en me. Annatjie du Toit ingehou. Daarop word aangedui dat hulle 104 eenhede water gebruik het. Vir die afgelope vier jaar was hulle eenhede nog altyd minder as die helfte van hierdie rekening s’n. So het hulle 42 eenhede in Augustus 2008 gebruik, 33 eenhede in November 2009, 34 eenhede in Mei 2010 en 40 eenhede in September 2011.
“Ons het die afgelope ses maande nie ‘n druppel munisipale water vir ons tuin gebruik nie, sê PW. Hy het ten einde laaste vir hom ‘n watermeter by sy watertenk geïnstalleer en hy vergelyk nou die lesing van die munisipale meter met sy eie meter.
“Ek kan nou met 100% sekerheid sê hoeveel water ek gebruik. Na een week het my meter 8 gewys, terwyl die munisipale meter al op 23 gestaan het. Na twee weke het my meter 14 gewys en hulle meter trek toe al by 46,” sê PW. Hy begin nou regstappe teen die munisipaliteit oorweeg, veral aangesien hy ook die afgelope agt jaar met rioolstortings in sy erf sukkel.
“Die probleem is aan die munisipaliteit se kant van die inspeksiegat. Hulle behoort die stukkende pyp te herstel en die bome reg bo hulle pyp te verwyder. Die munisipaliteit kom wel uit, maar los nie die probleem op nie,” sê PW.
Inwoners van Tshikota sukkel ook om hul probleme uitgesorteer te kry. Me. Elisa Lambani se rekening vir September wys dat sy 137 eenhede water gebruik het. “En daar was nie eers water nie,” sê Lambani. Sy word in totaal R765 aangeslaan vir watergebruik. Dis nou buiten die R20 heffing vir basiese water.
Die Makhado Munisipaliteit het reeds op die waterkrisisvergadering in Julie erken dat die watermeters aanhardloop as gevolg van die lug wat uit die sisteem kom wanneer die munisipaliteit die water aanskakel. Nadat die tegniese direkteur, mnr. Thivho Ralulimi, die stelling gemaak het, het inwoners heftig en met misnoeë gereageer. Die Makhado Concerned Group het gesê dat hulle nie wil betaal totdat die watervoorsiening standhoudend is nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
