ADVERTISEMENT:

 

Privaat hospitaal kry eindelik groen lig

 

News  Date: 23 August 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Na sewe jaar van onderhandelinge is 'n skikking uiteindelik bereik tussen die Superintendent-Generaal van Gesondheid en Welsyn en die Soutpansberg Privaat Hospitaal Groep. Die skikkingsaanbod sluit ook die bou van 'n teater in.

Die gemeenskap verkeer nou in afwagting vir die finale inspeksie van die Departement van Gesondheid en die toekenning van 'n praktyknommer om 'n privaat hospitaal te bedryf.

"Die publiek skakel gedurig en vra wanneer sal ons 'n praktyknommer kry, sodat hulle mediese fondse ooreenkomste met ons kan aangaan," sê matrone Drieka van der Merwe. Matrone Van der Merwe is die hoof verpleegkundige by die hospitaal,wat tans nog as die Zoutpansberg Medical Care Clinic bekendstaan. Dit is geleë op die hoek van Joubert- en Celliersstrate.

"Dit was vir die pasiënte 'n groot finansiële impak om altyd Pietersburg of Pretoria toe te moet gaan. Ten spyte van die feit dat daar nog nie ooreenkomste met die meeste mediese fondse was nie, is daar 300 pasiënte behandel in die tydperk vanaf die opening op 8 November tot 14 Augustus. Vir Augustus alleen het ons reeds sewentien kraambesprekings," vertel matrone Van der Merwe.

Die Soutpansberg Privaat Hospitaal Groep het dit baie duidelik gestel tydens die skikkingsonderhandelinge dat goeie dienslewering vir hulle ononderhandelbaar is. Daarom vereis hulle volle beheer oor die verskaffing van dienste by die fasiliteit. Hulle wil geensins in 'n situasie gelaat word waar die staat deur sy tipe dienslewering, die gevolg veroorsaak dat kliënte wat hulle fasiliteit gewoonlik gebruik, hulle skrede wend tot beter fasiliteite in Gauteng nie.

Die moratorium op privaat hospitaal fasiliteite wat sowat sewe jaar gelede ingestel is, het gelei tot verskeie jarelange hofsake. Die groep dokters in Tzaneen het sowat 18 maande gelede toestemming gekry vir hul privaat hospitaal, nadat die saak in die appélhof in Bloemfontein aangehoor is.

"Toe die lisensie vir Tzaneen toegestaan is, het ons gedink dit sou vir ons maklik wees, maar daar was ook eers 'n hooggeregshof saak. Ons is baie dankbaar vir die skikking," aldus dr. Jan Vermaak.

"By 'n vorige inspeksie was die Departement van Gesondheid baie tevrede met ons standaard. Ons wag nou net vir die finale amptelike inspeksie."

Dr. Vermaak het ook sy dank uitgespreek teenoor die burgemeester van Makhado, Raadslid Brighton Tlakula, wat na hul saak geluister het toe hulle totaal raadop was.

Intussen is die Bosveld Privaat Hospitaal Groep se saak in verband met 'n privaat hospitaal op Mokopane (Potgietersrus) nog hangende. Alhoewel daar gesamentlik aansoek gedoen is, is slegs die skikkingsvoorstel van die Soutpansberggroep aanvaar.

Oor die toestemming vir die teater is daar ook groot opgewondenheid. Die feit dat die insluiting van 'n teater per abuis uitgelaat is by die eerste aanbod tot 'n skikking, het gelukkig glad nie die skikking beïnvloed nie. Die skrywe van die Staatsprokureur waarin die skikking aanvaar word, sluit dan ook pertinent die byvoeging van 'n teater in. Die teater sal aan die westekant van die huidige gebou opgerig word teen 'n beraamde koste van R2 miljoen.

Dr. Vermaak het aangedui dat daar ook voorsiening gemaak sal word vir tien ekstra beddens. Huidiglik is daar vyf sale met twaalf beddens in totaal, asook ablusiegeriewe vir elke saal. Onder andere is daar ook 'n versorgingsfasiliteit met 'n resusitasie apparaat waar noodgevalle hanteer kan word en 'n kraamkamer, tans volledig toegerus vir alle gevalle buiten 'n keisersnee. Die verpleging word tans waargeneem deur drie permanente verpleegpersoneel en 'n verpleegdiens wat personeel verskaf na gelang van die behoefte by die hospitaal. 'n Ambulansdiens word ook in die vooruitsig gestel.

Een van die pasiënte wat verlede week vir hartversaking opgeneem is, mev. Emmie Bannatyne, is vol lof vir die diens by die hospitaal.

"Ek is met soveel vriendelikheid en liefde ontvang en behandel," glimlag mev. Bannatyne.

'n Kraampasiënt, mev. Ntsondeni Makhado, het ook haar tevredenheid met die diens uitgespreek. Haar babadogtertjie, Mufulufheli (Iemand wat hoop), is op 19 Augustus gebore.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines