ADVERTISEMENT:

 

Woede oor donkies se lot

 

News  Date: 19 October 2012

 

Die lot van 37 donkies wat in haglike omstandighede in die munisipale skut in Makhado (Louis Trichardt) aangehou word, het die afgelope week hewige reaksie vanuit die gemeenskap ontlok.

‘n Sakevrou van die dorp, me. Helena van den Heever, het die haglike toestande waarin die trop donkies moet leef verlede Dinsdag onder die koerant se aandag gebring. Sy het by die skut, wat in Industriastraat geleë is, gestop om ondersoek in te stel nadat sy ‘n dooie donkie in een van die kampies opgemerk het.

“Die donkie het van die ellende gevrek; daar is nie kos of water vir hulle nie,” het Van den Heever gesê. 'n Sekuriteitswag het glo, volgens Van den Heever, net skouers opgetrek en vir haar gesê dit is nie hulle probleem waar die donkies kos of water kry nie.

Daar kon vasgestel word dat die donkies op 24 September deur die Musina polisie vanaf Beitbrug gebring is. Almal was rondlopediere wat 'n gevaar veroorsaak het op die pad en almal was reeds  in 'n erg verwaarloosde toestand.

Dit het eers later, met die ingryping van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), aan die lig gekom dat die dooie donkie gevrek het weens geboortekomplikasies. Dié verslag, waarvan die koerant 'n afskrif gesien het, het nie die moontlikheid in ag geneem dat die donkie geaborteer het weens wanvoeding nie. Nóg ‘n donkie het ‘n dag later haar vul geaborteer.

Van den Heever het met die hulp van haar man, Pierre, en nog ‘n inwoner, me. Esmé Mostert, die donkies se nood op die Facebook-groep, Louis Trichardt FUNKMAIL, bepleit. Kort voor lank is hulle oorval deur hulp en navrae van die publiek oor die donkies.

Dié ingryping het egter groot konsternasie veroorsaak, met gemoedere wat by tye hoog geloop het. Van den Heever vertel dat hulle eers toegang tot die skut geweier is toe hulle probeer het om verlede week voer en water vir die donkies af te laai. Vele oproepe later is daar eers toegegee.

Intussen is mnr. Lawrence Khodobo, senior inspekteur by die plaaslike DBV, ook in kennis gestel van die donkies se nood. Die toedrag van sake by die munisipale skut is al vir ‘n geruime tyd ‘n teer punt vir die DBV. Khodobo, wat verlede Woensdag self ook by die skut was, het egter die publiek gevra om nie in te meng nie. Dit ná klagtes dat die DBV versuim het om aandag te gee aan die donkies se lot.

“Ons kan net die munisipaliteit adviseer oor riglyne met betrekking tot die versorging van die diere. Daar kan eers kriminele klagte gelê word as ons ‘n volledige ondersoek gedoen het en bevind het dat ‘n dier wat onder hulle toesig was, gevrek het weens wanvoeding of verwaarlosing,” het Khodobo verduidelik. Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit wetlik verplig is om na die diere te kyk.

Khodobo het die nasionale DBV se skutregulasies aangehaal om van die munisipaliteit se verpligtinge uit te wys. Volgens die regulasies moet diere vrye toegang tot skoon water- en kosbakke hê. Diere wat nog afhanklik is van die moeder moet van surrogaatmelk voorsien word, indien die moeder nie genoeg melk het nie. In die geval van die donkie wat ‘n miskraam gehad het, moes ‘n veearts ontbied word. Alle diere moet ook gereeld gedip word teen bosluise. Iets wat baie belangrik is, is ‘n gekwalifiseerde skutmeester wat in beheer is.

Khodobo is al vir meer as ‘n jaar in gesprek met die bestuur van die Makhado Munisipaliteit om hierdie regulasies tot uitvoer te bring. Verlede Woensdag het hy weereens die regulasies aan die skutmeester, ene mnr. Mathonsi, en sy kollegas voorgelees en verduidelik. Dit was egter duidelik dat niemand by die munisipaliteit gretig is om die blaam of verantwoordelikheid te vir die skut te neem nie.

Mathonsi het werkers wat opdragte nie uitvoer nie, blameer vir die toestande by die skut. “Almal doen net wat hulle wil en nie wat ek vir hulle sê om te doen nie,” het Mathonsi gesê.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdag in antwoord op ‘n navraag ontken dat diere by die skut mishandel word. “As munisipaliteit het ons die verantwoordelikheid om rondloperdiere goed te versorg totdat hul eienaars hulle kom haal,” het hy gesê. “Ons het ook 'n program waarvolgens wat die diere gevoer word. Hulle kry tien bale lusern en drie maal per dag water.”

Spesifieke navrae oor Mathonsi se kwalifikasies as skutmeester is nie deur Bobodi onbeantwoord nie. Bobodi het verdere navrae na sy kollega, mnr. Peter Muthambi, verwys, aangesien hy teen druktyd in die buiteland sou wees.

Die navrae is na Muthambi verwys. Hy is ook gevra hoe die munisipaliteit daarin kon slaag om die donkies drie keer ‘n dag water te gee as die dorp sedert Vrydag sonder water was. Teen druktyd het Muthambi nog nie geantwoord op die navrae nie, alhoewel hy ontvangs daarvan erken het.

"Het ons noodtenkers dan nie water soontoe gevat nie?" het hy gevra toe die koerant hom meedeel dat die Van den Heevers nog die hele naweek vir die diere sorg en water aanry.

Intussen kon daar vasgestel word dat die munisipaliteit in 'n noodvergadering besluit het om die publiek toegang tot die skut te weier. Tydens die vergadering is die DBV ook die onderneming gegee dat ekstra waterbakke by die skut voorsien sal word.

“Daar is beeste ook by die skut, maar ek kan nie na hulle én die donkies kyk nie,” het Helena gesê. Sy meen as die munisipaliteit nie na die diere kan kyk nie, moet hulle eerder die skut toemaak.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines