

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 August 2002
LOUIS TRICHARDT – Inwoners van die dorp, vriende en gesinslede van sover as Vancouver in Kanada het vandeesweek hul laaste eer betoon aan 'n merkwaardige mens met 'n ryk geskakeerde lewe wat verweef is met die geskiedenis van die plaaslike gemeenskap.
Dr. Beyers van Rensburg, oud-kerkraadslid, oud-tandarts, oud-burgemeester, skoolraadslid, veelsydige sportman en jarelange aktiewe lid van die Rotariërs is verlede Donderdag hier oorlede.
Dr. Van Rensburg en sy vrou Chrissie het in 1974 na Louis Trichardt gekom, waar hy as tandarts gepraktiseer het, maar ook aan vele fronte by die gemeenskapslewe betrokke was. Hy het altesaam dertien jaar in die destydse Stadsraad gedien, waarvan ses jaarlange termyne as burgemeester en verskeie jare as voorsitter van die Bestuurskomitee. In dié tyd het hy homself veral beywer om die boeregemeenskap en die sakelui van die dorp bymekaar te bring. Op die wyse het hy gehelp om 'n sake atmosfeer en infrastruktuur aan te moedig wat meegebring het dat dit al minder nodig was vir plaaslike mense om hul inkopies elders te gaan doen.
Aan die bewaringsfront was dr. Van Rensburg met die geesdriftige aanmoediging en steun van sy eggenote en met die kundigheid van die legendariese Lien Rottcher verantwoordelik vir die formele skepping van die dorp Louis Trichardt se unieke Groen Gordel, wat al by geleentheid skertsend genoem is die dorp se Central Park. Dit behels 'n bykans ongerepte strook natuurlike plantegroei en inheemse bome aan beide oewers van die Dorpsrivier wat van noord na suid deur die dorp vloei. Deel van die mikpunt in die groen gordel was om die hele indrukwekkende inheemse bomeverskeidenheid van die Soutpansberg in die Groen Gordel te vestig en te bewaar.
Dr. Van Rensburg was ook betrokke by die latere stigting van die Westelik Soutpansbergse Bewaringsgroep, wat meer as 60 000 hektaar bergwêreld, met reuse geelhoutbome, een van die grootste kolonies luiperds en ongeskonde rotstekeninge, saamgesnoer het in 'n Wêrelderfenisarea. Hy was ook 'n stigterslid van Schoemansdal se Museumkomitee.
Dr. Van Rensburg is die ere-titel van Raadsheer toegeken vir sy uitmuntende jarelange bydrae in die Stadsraad.
Tydens die dorp se Eeufeesvieringe is hy as ere-kolonel gedekoreer vir twintig jaar van troue diens aan die Regiment Christiaan Beyers en die Soutpansberg Kommando. Hy was ook stigterslid van die Kommando Trustfonds. Daarbenewens was hy 36 jaar lank 'n aktiewe kerkraadslid en het as diaken en ouderling gedien.
Beyers van Rensburg is op 11 April, 1929 in Pretoria gebore as die jongste kind van die sendeling Eerwaarde Gerrie van Rensburg. Ds. Van Rensburg het vir vyftig jaar lank op Warmbad bedien. Beyers het daar grootgeword as een van drie kinders. Vir sy hoërskoolopleiding is hy na die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy het later sy BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en in 1953 as tandarts gekwalifiseer. Aan universiteit het hy aan verskeie sportsoorte deelgeneem en was hy ook lid van die Sentrale Studenteraad.
In 1954 is hy op Bethlehem met Chrissie van Niekerk getroud. Hulle het vier kinders gehad, waarvan twee, Beyers (jnr) en Tanya nog lewe. Beyers (jnr) is die afgelope paar jaar sakeman in Vancouver, Kanada. Tanya en haar gesin woon op Ellisras.
Gedurende dr. Van Rensburg se meer as veertig aktiewe diensjare as lid van die plaaslike Rotariërs, is onder meer die Rojac-kompetisie vir leerlinge in hul voorlaaste skooljaar begin. Nadat hy sy tandarts praktyk verkoop het, het hy staatstandarts geword en sy talente aangewend vir die ontwikkeling van veral voorkomingsprogramme in die skole-tandheelkundige dienste. Sowat tien jaar gelede moes hy aftree na 'n ernstige hartaanval.
Hy laat sy vrou en twee kinders, met hul gesinne agter.

ADVERTISEMENT:
