

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 August 2002
LOUIS TRICHARDT – Die kwessie rondom onwettige optrede deur lede van die SAPD en polities geïnspireerde arrestasies op boere was weer hoog op die agenda tydens 'n vergadering tussen lede van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie en die kantoor van die SAPD se Area-kommissaris, Direkteur Maepa, op 19 Augustus.
Die vergadering volg kort na 'n insident twee weke gelede waar 'n swart vrou op die plaas Welgevonden naby Louis Trichardt dood is. Die vrou is na bewering deur die boer in sy huis betrap. 'n Worsteling het ontstaan waartydens die vrou na bewering geval en oorlede is. Die boer het kort daarna in die hof verskyn in verband met die vrou se dood, maar die saak teen hom is teruggetrek vir verdere ondersoek, nadat daar volgens hofstukke niks was wat hom regstreeks met die vrou se dood kon verbind nie.
'n Paar dae later het die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, Me Dikeledi Magadzi, vergesel deur kapt. Ailwei Mashavhanamadi van die SAPD in Thohoyandou en 'n nuusspan van die SABC, by die polisiekantoor op Louis Trichardt ingestorm en 'n persoonlike aanval geloods op die blanke polisie-offisier wat na bewering gemoeid was met die ondersoek. Sy wou, ten aanskoue van die televisiekameras, onder meer weet of die offisier dan geen respek het vir die lewe van 'n swart vrou nie en waarom die boer nie summier in hegtenis geneem is na die voorval nie.
Ongelukkigheid is tydens Maandag se vergadering uitgespreek oor die feit dat Me. Magadzi by ondersoeke inmeng deur opdragte te gee oor wat die ondersoekbeampte op grondvlak te doen staan. Hulle het dit bestempel as 'n poging om die regspleging te manipuleer, optrede wat baie sterk herinner aan die Viviers-geval by Mara en later die gebeure op Dendron waar 'n onwettige jagter doodgeskiet is. 'n Ewe bekende geval was die van mnr. Johnny Greyson van die plaas Haver oos van Musina. Was dit nie vir die toetrede van Georganiseerde Landbou nie, sou mnr. Greyson vir baie langer in aanhouding gewees het.
Met betrekking tot bogenoemde, is boere Maandag weereens die versekering gegee dat die kwessie rondom onwettige en polities geïnspireerde arrestasies op hoë vlak aandag geniet. Vanaf Georganiseerde Landbou se kant is daar ook 'n aantal voorstelle en optrede op rekord geplaas wat 'n duidelike boodskap aan opportunistiese politici moet oordra.
Eerstens het hulle genoem dat hierdie nie Zimbabwe is nie en dat enige manifestering van wat in Zimbabwe aan die gang is, hoe subtiel ookal, met oorgawe teengestaan sal word. Groter klem sal ook voortaan by opleiding van ondersoekbeamptes gelê moet word oor wanneer om 'n arrestasie uit te voer. Waar polisiebeamptes of baasspelerige politici willens en wetens buite die raamwerk van die Wet wil vervolg, regter en laksman speel, het Georganiseerde Landbou versoek dat daar daadwerlik teen sulke beamptes opgetree moet word. 'n Gedragskode vir beide SAPD en lede van Georganiseerde Landbou is ook in die vooruitsig gestel met die DLU wat sal verseker dat lede wat in die hof moet verskyn wel opdaag.
Volgens Georganiseerde Landbou is bogenoemde optrede noodsaaklik gesien in die lig van toenemende plaasaanvalle en kan 'n voornemende slagoffer nie in sy oordeel op optrede om te kan oorleef, verlam word deur vrese vir onbevoegde en bevooroordeelde polisiebeamptes en politici nie. In die verband het Georganiseerde Landbou genoem dat dit belangriker is om eers te oorleef en daarna die gevolge aan te spreek.
"Ons was immers nie die aggressor of moeilikheidmaker nie … Na alles wil ons ons besig hou met ons primêre dagtaak, naamlik om te boer," aldus Georganiseerde Landbou.
Georganiseerde Landbou het ook hul dank uitgespreek teenoor diegene in die SAPD en howe wat steeds op professionele wyse hul dagtaak verrig.

ADVERTISEMENT:
