ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Saak teen Groenewald en tien medebeskuldigdes sloer steeds

 

News  Date: 26 October 2012

 

Sakeman Dawie Groenewald en sy 10 medebeskuldigdes se renoster-saak sloer steeds voort.

Groenewald en sy medebeskuldigdes het weer verlede Vrydag vlugtig in die Musina Landdroshof verskyn op klagte wat verband hou met beweerde grootskaalse renosterstropery.

Hulle is gedurende September 2010 in hegtenis geneem.  Die ander beskuldigdes is Groenewald se vrou, Sariette (35), twee veeartse van Modimolle, Karel Toet (47) en Manie du Plessis (38), Toet se vrou, Marisa (39), Nardus Rossouw (43), Tielman Erasmus (34), Dewald Gouws (26), Paul Matoromela (62) en Jacobus Marthinus Pronk (49).

Dié 11 is in Oktober verlede jaar aangekla op 1 872 klagtes, wat ondermeer insluit permit-oortredings, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Daar is ook aanklagte wat verband hou met die onwettige besit en vervoer van olifanttande, pogings tot regsverydeling en die onwettige jag van ‘n luiperd.

Groenewald, die eienaar van Out of Africa Adventurous Safaris, word volgens die klagstaat daarvan aangekla dat sy besigheidsaktiwiteite wettige en onwettige bedrywighede ingesluit het. Hy en sy medebeskuldigdes sou glo renosters onwettig onthoring, gejag en onwettig besit of verkoop het.

Tydens Vrydag se hofverskyning is die groep se saak uitgestel tot 16 Mei volgende jaar. Dié uitstel is glo gevra omdat die verdedigingspan nog wag op dokumente en bewysstukke van die Staat. Groenewald en sy medebeskuldigdes sal na verwagting met hul volgende hofdatum in die Hooggeregshof in Polokwane verskyn.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines