ADVERTISEMENT:

 

Willie by die verdeelkas binne sy lapa. Nie veel daarvan het oorgebly nie.

Natuur lewer weer bewys van vernietigende krag

 

News  Date: 26 October 2012

 

Alhoewel nie naastenby so verwoestend en met noodlottig gevolge soos die naweek se vloede in die Oos-Kaap nie, was grootskaalse skade aan infrastruktuur op ‘n plaas net buite Makhado (Louis Trichardt) verlede week ook weereens bewys van die natuur se vernietigende krag.

“As ek staan net daarso, toe ek hoor net phaa! Ek hy kyk net, ek sien die vuur hy brand net daarso by die gras ... En ek sien daai boom van die transform hy maak net so kwa-kwa, vuur! ... en ek gryp die hosepipe en ek maak dood die vuur. ”

So vertel mnr. David Ramubia, ‘n plaasarbeider op die plaas Cloud's End nommer 15 van mnr. Willie Scheepers. ‘n Weerligstraal het kort voor sewe verlede Dinsdagoggend vermoedelik eers ‘n hoogspanningslyn skaars 300m van die plaashuis raakgeslaan, waarna dit ‘n kragstuwing (power surge) in die laespanningslyn veroorsaak het.

Die kragstuwing het plaveisel by Willie se buitelapa op die plaas uit die grond geruk, verdeelkaste aan flarde geruk en self die nuut-ingemesselde onderwater lig in die swembad uitgeskiet. Die plaveisel is uitgeruk nadat die elektriese stroom met ‘n boomwortel, wat onderdeur die lapa gegroei het, geaard het. Dele van die wortel is uit die grond geruk, wat ‘n bykans vier-meter-lange sloot tot gevolg gehad het, met grond en gras wat meters hoog in ‘n nabye boom ingeskiet is. Dit alles terwyl David skaars 20m weg gestaan het ...

“Gelukkig het die pootjieskakelaar by die verdeelkas by die huis afgeslaan en was daar niks skade in die huis nie,” vertel Willie. ‘n Buurman van Willie was egter minder gelukkig, met sy hoëtroustel en televisie wat onder meer in die slag gebly het.

“My boorgat se beheerkas se deurtjie het ek 10m vanaf die kas gekry, so hy is ook afgeskiet. Ek hoop nie my boorgat is daarmee heen nie,” het Willie gesê.

Willie, wat geen vreemdeling is as dit kom by elektrisiteit nie weens sy jarelange verbintenis met die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, moes weens die weerligslag 'n paar dae verlof insit om die skade op sy plaas te herstel. Alhoewel hy huisversekering het, het hy nie versekering vir die skade buite die huis nie.

Willie het gesê hy het opnuut respek gekry vir die natuur se krag. Hy vertel dat hy en ‘n paar vriende een Desember in die swembad gesit het terwyl die donderweer opgekom het. Sy vrou het hom later met die selfoon gebel en hulle versoek om asseblief uit te klim.

“Ek sal na dese baie vinniger uit die water kom as daar weerlig is,” het Willie opgemerk.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines