

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 October 2012
Die gesloerdery met die afronding van strate in Makhado (Louis Trichardt) het gevolge wat steeds wyer uitkring. Kinders stel hulself daagliks in gevaar deur in die straat te stap en vrae ontstaan oor die gevolge van reën en erosie by die onklaar strate.
Skoolkinders stap in Stubbsstraat, een van die besige hooftoevoerpaaie oor die N1 na die dorp, omdat die sypaadjie met ‘n beskermingsreling wat vir voetgangers aangebring is, steeds vol bourommel lê en onbegaanbaar is.
Die kontrakteur van Stubbsstraat, Fantique Trade, is verantwoordelik vir die opruim van die rommel en die voltooiing van die pad. Die kontrakteur en subkontrakteurs gaan nie voort met enige werk totdat hulle betaling van die Makhado Munisipaliteit ontvang het vir werk reeds gelewer nie. Volgens die stadsraad se finansiële hoof, me. Mikateko Makhubela, word munisipale toelae (grants) weer in November vanaf die regering aan die raad oorbetaal.
“Ek sal die kontrakteur weer smeek om tog maar intussen die rommel te verwyder daar waar skoolkinders moet stap,” het mnr. Pieter Meiring, ingenieur van Dombo en Du Plessis Raadgewende Ingenieurs, Dinsdag gesê.
Intussen val daar welkome reën. Dit laat vrae ontstaan rondom die kante van die straat. Wat gaan die reën doen aan Stubbsstraat se kante, wat nog geen afwerking ontvang het nie? ‘n Ingenieur-tegnikus met 20 jaar ondervinding van paaie, wat by Hillary Konstruksie en Polokwane Surfacing werksaam is, sê dat alles afhang van die kwaliteit van die werk by die basislae.
“Daar is gewoonlik drie lae onder die padoppervlakte wat volgens vereistes gekompakteer moet word en waarvoor die vereiste materiaal gebruik moet word. Hoe beter die fondasie, hoe langer die lewe van die padoppervlakte,” het hy gesê. Hy het verkies om anoniem te bly. Die lewensspan van die afronding aan die kante van die pad is eweneens afhanklik van die kwaliteit van die basis. “Met ‘n goeie basis sal die reën niks maak nie, maar met ‘n swak basis sal die kante sponsagtig word. Ons teer die padoppervlakte, maar waar daar klein foutjies op die basislae is, moet ons soms vir kontrakteurs sê dat ons nie ‘n waarborg op hulle pad kan gee nie,” het die kundige gesê.
Stubbstraat gaan wel nog randstene kry.
“Die verskaffer wil nie regtig die randstene verskaf voor betaling nie gemaak is nie,” het Meiring gesê. Sy kommentaar op die gronderosie wat die reën aan die kante van Stubbsstraat kan veroorsaak, is dat die kontrakteur eers weer die erosie met beton of asfalt moet regmaak voor of terwyl die randstene aangebring word. In Munnikstraat moet die groot gaping tussen die randstene en die teer met beton gevul word.
“Ons het gehoop op vier weke vir voltooiing nadat betaling ontvang is, maar reënskade kan dit nog langer maak. Ek hoop hulle maak klaa;, ek kan nie nog ‘n Kersfees daar deurbring nie,” het Meiring gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
