

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 August 2002
MUSINA – 'n Massiewe internasionale hulpverleningsaksie is hier aan die gang. Reuse vragte mielies beweeg nou daagliks oor Suid-Afrika se noordgrens na hongergeteisterde buurlande.
Die MAC Binnelandse hawe op Musina speel 'n belangrike rol in die vervoer van duisende tonne mielies oor die grens na Zimbabwe en ander buurlande, wat reeds ernstige voedselnood verduur.
Die algemene bestuurder van Messina Associated Carriers (MAC), mnr. Johan Venter, het in 'n onderhoud bevestig dat gemiddeld 500 ton mielies nou daagliks by die binnelandse hawe-geriewe gehanteer en verskuif word.
Trokvragte los mielies word per trein en per vragmotor na Musina gebring en by die reuse onderdak bergingsruimte afgelaai, waar dit in sakke geplaas en gelaai word om per pad na die buurlande te gaan.
Die reuse hope wit- en geelmielies is hoofsaaklik internasionale skenkings. Dit word met behulp van spesiale suigapparaat in sakke geplaas wat op wagtende vragmotors gelaai, of onderdak opgestapel word, gereed om na buurlande soos Zimbabwe en Malawi versprei te word. 'n Daaglikse stroom van honderde tonne mielies beweeg deur die grenspos by Beitbrug, waar spesiale reëlings getref word om die vragmotors met hul noodsending met die minste moontlike vertraging deur te laat.
Mnr. Venter sê groot hoeveelhede sitrus word ook vir versending by die binnelandse hawe ontvang.
Hy sê die eerste twee fases in die oprigting van die bergingsgerief, met sy tersake kantoorruimtes, is reeds voltooi en volstoom in bedryf. Die derde fase, die toevoeging van bykomende administratiewe ruimte en 'n verdere uitbreiding van die onderdak aflaaigeriewe word reeds aangevoor.
'n Bykomende bunkergerief, wat die regstreekse storting van massa-losgraan uit treintrokke vinniger en doeltreffender sal kan hanteer, word reeds beplan en sal eersdaags op dreef kom. Tot dusver moes die los mielies met suigapparaat uit die trokke oorgeplaas word na 'n eenheid waar dit in sakke geplaas word.
Die voedselnood in die buurlande word veroorsaak deur strawwe droogtetoestande en politieke wanbestuur, soos in Zimbabwe, waar die president die land se beste voedselprodusente verbied om met produksie voort te gaan.
'n Politieke waarnemer in Zimbabwe het vandeesweek in 'n radio-onderhoud gesê die land, wat eens die voedselmandjie van Afrika was, moet nou bedel vir kos.
Intussen heers daar 'n gespanne atmosfeer aan die Suid-Afrikaanse kant van die Limpopogrens met Zimbabwe, waar 'n gereelde stroom van onwettige immigrante die grens oorsteek om die voedselnood en werkloosheid in hul land te probeer ontvlug. Georganiseerde Landbou in die aangrensende landbougebiede in Suid-Afrika het reeds amptelike kommer uitgespreek oor die gebrek aan doeltreffende grensbeheer en die bedreiging vir die veiligheid van die Suid-Afrikaanse produksiegebiede wat veroorsaak word deur die vrye beweging van onwettige vreemdelinge oor die grens.
'n Toename in die toestroming word verwag wanneer duisende plaasarbeiders werkloos gelaat gaan word deur die afsetting van kommersiële boere vanaf hul plase in Zimbabwe.

ADVERTISEMENT:
