

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 November 2012
Weldoeners ontferm hulle steeds oor die lot van ‘n trop donkies wat nou al vir weke in die munisipale skut op Makhado (Louis Trichardt) aangehou word.
Gemoedere het Dinsdagmiddag hoog geloop toe twee van die donkies uitgesit moes word. Tot op hede word navrae aan die Makhado (Munisipaliteit) oor die toestande by die skut begroet met of niksseggende kommentaar of antwoorde van “Ons weet nie waarvan julle praat nie.”
Die lot van die donkies wat in skynbare haglike omstandighede in die munisipale skut, in Industriastraat, aangehou word, het hewige reaksie vanuit die gemeenskap gelok nadat Helena van den Heever en Esmé Mostert ‘n bewusmakingsveldtog op die Facebook-groep Louis Trichardt FUNK MAIL begin het.
Dié twee weldoeners is Dinsdag egter wreed ontnugter met die nuus dat Gaatjies en Babatjie, soos hulle gedoop is, uitgesit is. Esmé en Helena het die twee donkies sedert verlede week gedokter, ná ‘n besoek van ‘n veearts. Beide donkies het blykbaar siek geword van blootstelling.
“Daar is te min voer vir al die diere,” het Esmé gesê. Volgens haar word daar net vier bale deur die munisipaliteit verskaf om die donkies en beeste by die skut te voer. Dit is ten spyte van die versekering wat munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi twee weke gelede gegee het dat die diere tien bale voer per dag kry.
“Hulle waterbak lyk soos ‘n sif,” voeg sy by.
Bobodi het Dinsdag gesê die publiek moet ophou om die diere te voer “omdat dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om dit te doen.” Hy het ook gesê dat mnr. Mathonsi nie die skutmeester is nie, maar wel ‘n verkeersbeampte by Waterval. Dit ten spyte daarvan dat Mathonsi homself as skutmeester aan die koerant voorgestel het.
Die Zoutpansberger ook navraag gedoen oor sekuriteit by die skut. Gerugte wil dit hê dat mense beeste wat nie gebrandmerk is nie en daar aangehou word, met hul eie brandysters kom merk en dan die beeste opeis. Dié beeste word dan weer vir ‘n wins verkoop. “Ek weet nie waarna jy verwys nie,” was Bobodi se antwoord op 'n vraag hierna.
Intussen het die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) se inspekteur, mnr. Lawrence Khodobo, ook Dinsdag bevestig dat die munisipaliteit wel tydelike water- en voerbakke voorsien het. Hy was van mening dat die munisipaliteit uiteindelik ‘n poging aanwend om toestande by die skut te verbeter.
Wat die uitsit van die donkies betref, het hy gesê dit was ‘n weldeurdagte besluit, omdat die donkies swaar gekry het. “Die publiek het nie ‘n sê in die aangeleentheid nie. Dit is die munisipaliteit se donkies en hulle verantwoordelikheid,” het Khodobo gesê. Die DBV se mev. Bea Reimer het Khodobo se stelling beaam en gesê dat mense wat nie die nodige kwalifikasies het om na sulke diere te kyk nie, dit eerder nie moet doen nie. Sy het gesê dat die DBV vermoed dat die donkies van Zimbabwe afkomstig is en hulle vrot van vreemde siektes en parasiete kan wees.
Die oorblywende 37 donkies sal op 7 November op 'n publieke veiling van die hand gesit word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
