ADVERTISEMENT:

 

generic image

Duur parkering binnekort ‘n realiteit

 

News  Date: 05 November 2012

 

Parkering in Makhado (Louis Trichardt) se middedorp teen R11 per uur? Effens duur, maar dit is presies wat die Makhado Munisipaliteit in gedagte het met die implementering van ‘n nuwe betaalde parkeertariefstelsel vir inwoners.

Ingevolge die nuwe stelsel sal motoriste vooraf die tarief moet betaal by munisipale beamptes wat met handtoestel die strate patrolleer. In Braamfontein in Johannesburg is ‘n soortgelyke sisteem in Desember 2010 in werking gestel teen R7.50 per uur. In Oktober vanjaar is berig dat die tarief R8 per uur is, maar dat dit in Julie volgende jaar verhoog gaan word na R8.50 per uur.

“Hierdie bedrae van R5.50 vir 30 minute of ‘n gedeelte daarvan en R11 per uur is buitensporig,” sê mnr. Phillip Olivier, bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV). Hy het die vergadering bygewoon waar die Makhado Munisipaliteit aangekondig het dat die nuwe stelsel, in samewerking met ‘n privaat maatskappy, goedgekeur is.

Die maatskappy het in hulle verslag genoem dat daar ongeveer 1 200 aangeduide parkeerplekke in en om die sentrale besigheidsgebied bestaan. Die totale aantal voertuie wat in dieselfde gebied parkeer, is dikwels meer as 3 200. “Daar is dus behoefte aan ‘n addisionele 2000 parkeerplekke. In spitstyd word 93% van die parkeerplekke in die middedorp gebruik en in hierdie tyd is slegs 27% van die parkeerplekke beskikbaar vir tydelike parkering. Ongeveer 79% van die karre staan langer op die parkeerplekke as die aangeduide limiet. Gemiddeld 40% van die parkeerplekke word vir die hele dag gebruik,” lui die maatskappy se verslag.

“Waar gaan die ekstra 2 000 parkeerplekke kom? En waar gaan daar gratis parkering beskikbaar wees?” is vrae wat die SBBV vra. Hierdie vrae, asook die vraag of die buitensporige tarief verlaag gaan word, is aan die munisipaliteit gevra. Die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, het geantwoord dat die navrae aandag geniet, maar dat dit dalk twee weke kan neem om antwoorde te verskaf.

In Johannesburg werk dit so dat die motoriste hulle kwitansies op hulle motors se instrumentepaneel moet vertoon sodat die parkeerbeamptes dit duidelik kan sien. Die gedrukte kwitansie sal die voertuig se registrasienommer, die tyd, datum en die bedrag vertoon. ‘n Boete van R200 (of R100 indien dadelik vereffen word) word daar gehef vir motoriste wie se voertuie vir meer as twee uur op ‘n parkeerplek staan (www.joburg.co.za). Die stelsel steun swaar op parkeerbeamptes, wat tans kla dat hulle geen basiese salaris ontvang nie, maar slegs 15% kommissie op dit wat hulle kollekteer. Die Metroraad ontvang glo 20% tot 40% van die inkomste. In Parkhurst, waar die stelsel sedert Maart vanjaar geïmplementeer is, oorweeg die inwoners sowel as die besigheidsmense regsaksie teen die metroraad omdat hulle nie voldoende gekonsulteer is nie.

Plaaslik is inwoners deeglik bewus van die dorp se bestaande parkeermeters wat van meet af aan probleme gegee het. Die probleme het begin kort nadat die munisipaliteit besluit het die vorige meters moet teen hoë koste vervang word. Hul poging was duidelik ‘n mislukking. Daar is selfs ‘n nuwe pos geskep vir ‘n persoon om die huidige meters te onderhou. Duidelik het dié persoon nie sy werk gedoen nie. Volgens inligting beskikbaar sal die aanvanklike befondsing en werking van die projek die verantwoordelikheid van die privaat maatskappy wees.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines