ADVERTISEMENT:

 

Vrae oor LUR se politieke aanval op polisieman

 

News  Date: 16 August 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Ernstige vrae het ontstaan oor die gedrag van die LUR vir Veilligheid en Sekuriteit na haar erg omstrede openbare aanval op 'n polisie-offisier die afgelope week.

Die wenkbroue het ook gelig oor die optrede van kommunikasieoffisier, kapt. Ailwei Mushavhanamadi en die wyse waarop die SABC se TV-span op sleeptou geneem word vir, wat kykers as "blatante rassistiese politieke aanhitsing" bestempel.

Die LUR se openbare verklarings het gevolg op 'n insident verlede week waartydens 'n vrou dood is op die plaas Welgevonden naby Louis Trichardt. Volgens voorlopige verslae van die polisie het die eienaar op 7 Augustus omstreeks 14:00 wakker geword van 'n geraas by die huis en ondersoek ingestel. Hy het in die huis afgekom op 'n onbekende vrou wat hom na bewering aangeval het. 'n Stoeiery het na bewering ontstaan en in die proses het die vrou geval. Sy het nie weer opgestaan nie. Die man het onmiddellik die polisie van die voorval in kennis gestel. Die polisie het ondersoek ingestel en die man het in die hof verskyn in verband met die dood van die vrou. Die saak teen hom is egter teruggetrek vir verdere ondersoek. Volgens die hofstukke was daar niks wat die man regstreeks met die dood van die vrou kon verbind nie. Geen post mortem verslag was nog beskikbaar nie.

Die LUR, Me Dikeledi Magadzi, vergesel van kaptein Mushavhanamadi en 'n nuusspan van die SABC het Dinsdag by die polisiekantoor op Louis Trichardt opgedaag en op kamera, ten aanskoue van die publiek 'n heftige persoonlike aanval geloods teen die polisie-offisier wat na bewering gemoeid was by 'n ondersoek na die dood van die vrou op die plaas Welgevonden. Die vrou is later uitgeken as 'n skoonmaker en tuinier by 'n nabygeleë skooltjie.

Die LUR wou onder meer bitsig van die blanke offisier weet of hy dan geen respek vir die lewe van die swart vrou het nie. Sy het dit gevra omdat die blanke man in wie se woonhuis die vrou aangetref is, nie summier in hegtenis geneem is nie.

Polisiewoordvoerders wat na die LUR se openbare uitbarsting genader is, was dit eens dat dit roekeloos onverantwoordelik en waarskynlik onregmatig sou wees om 'n persoon op die beskikbare getuienis in hegtenis te neem.

Die SABC se nuusspan het die insident as 'n "vermoedelik rassisties gemotiveerde moord" aangebied.

Joernaliste en regskenners op die dorp was dit eens dat die LUR se gedrag strydig is met verskeie aanvaarde gedragskodes en etiese norme.

In Louis Trichardt het 'n amptelike woordvoerder bevestig dat die hof die saak voorlopig teruggetrek het hangende 'n verdere ondersoek.

Die wyse waarop die polisie-offisier opsetlik met behulp van TV-kameras sonder 'n behoorlike dissiplinêre verhoor in die openbaar in 'n verleentheidsituasie geplaas word, deur die persoon wat veronderstel is om sy persoonlike en beroepsbelange te beskerm, plaas onaanvaarbare vraagtekens oor die betroubaarheid en integriteit van die MEC en haar departement as werkgewers.

Toe hierdie bedenkinge onder die aandag gebring is van die hoof van SABC 2 se nuusafdeling, mnr. Nyana Molete, het hy toegegee dat die inhoud van die TV-insetsel van die LUR se aanval op die polisie-offisier en die beklemtoning van die ras van individue, onaanvaarbaar is.

Hy het ook toegegee dat die omroeper se verwysing na Louis Trichardt as "Makhado" voorbarig en ongevraagd is, omdat dit feitlik foutief is om so na die dorp Louis Trichardt te verwys en omdat dit die indruk kan skep dat die SABC kant kies in 'n uiters sensitiewe geskil.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines