ADVERTISEMENT:

 

Rowers buit R50 000 se kontant, selfone

 

News  Date: 16 August 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Kontant, selfone en bybehore ter waarde van nagenoeg R50 000 is hier gebuit in 'n gewapende roof by 'n onderneming in die hoofstraat van die dorp.

Twee vroue is in die voorval met 'n vuurwapen aangehou en met selfoon laaikoorde vasgebind, terwyl die hele voorraad selfone en tydkaarte uit die winkel verwyder is.

Twee rowers, gewapen met 'n pistool, het Saterdag omvangryke verliese veroorsaak by die onderneming Cellnet in Kroghstraat in Louis Trichardt, toe hulle die winkel van sy totale voorraad gestroop het.

Die twee vroue, mev. Lynette Botha, die eienaar van die onderneming, en haar assistent, Melanie du Plessis, het ernstige trauma beleef in die voorval. Hulle moes magteloos toekyk hoe die winkel gestroop word, nadat hulle met 'n vuurwapen teen die kop gewaarsku is om nie alarm te maak nie, en toe sonder ontsag vasgebind is met die laaikoorde.

Mev. Botha het vandeesweek gesê sy moes aanvanklik Maandag die winkel sluit, omdat sy geen voorrade oorgehad het nie. Teen Dinsdag was sy egter weer vasberade om sover moontlik voort te gaan, ten spyte van die gevoelige terugslag.

Melanie du Plessis, was alleen in die winkel toe die eerste rower ingekom het. Hy het hom aanvanklik voorgedoen as 'n klant, wat belangstel in 'n selfoonhouer. Sy het dit vreemd gevind dat hy 'n houer aanvra wat opvallend te klein was vir sy selfoon. Terwyl sy besig was om hom te bedien het die ander rower binnegekom. Mev. Botha, wat intussen ook teruggekeer het na die winkel, het niksvermoedend deurgestap na die telefoon in die agterkant van die winkel, toe sy digby haar die geluid hoor van 'n pistool wat oorgehaal word. Sy het omgedraai en die tweede rower was skielik by haar met die pistool teen haar kop. "Dit was so skielik en onverwags – 'n mens skrik jouself lam." Sy sê die twee was onmiddellik uiters aggressief en het gedreig dat hulle beslis sou skiet as hulle sou probeer om hulp te ontbied. Hulle is beveel om agter in die winkel op die vloer te sit, terwyl die rowers eers die deur toegemaak het en hulle hande agter hulle rug vasgebind het. "Dit was 'n nare ervaring. Die koorde het my gewrigte seergemaak", het Melanie gesê.

Die rowers het die sleutel vir die kaartlaai en die kluis geëis en ook die betaallaai van kontant gestroop. Daarna het hulle al die selfone uit die vertoonkas in die winkel verwyder.

Mev. Botha sê benewens sowat R100 kontant het die twee mans selfone en tydkaarte met 'n waarde van tussen R46 000 en R50 000 geroof.

Kort nadat die rowers by die deur uit is, het die twee vroue hulleself losgewoel en uitgehardloop om alarm te maak. Die twee was egter alreeds weg. "Ons vermoed daar was waarskynlik 'n voertuig by die vulstasie langsaan, waarmee hulle weggejaag het," sê mev. Botha.

Die twee rowers was betreklik jonk. Die een het 'n hoed opgehad en die ander een het 'n oorbel in sy een oor gehad.

Die voorval het omstreeks 11:00 Saterdagoggend plaasgevind.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines