

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 November 2012
Sy was iemand wat haar Christenskap prakties uitgeleef het en ‘n groot liefde uitgestraal het vir haar medemens.
So sal familie, vriende en kennisse vir tannie Berdina Nel onthou. Sy is verlede Donderdagnag in die ouderdom van 75 jaar in haar slaap oorlede.
As ‘n boorling van die Soutpansberg het Tannie Berdina (née Metton) reeds as tiener haar roeping om in die bediening te staan, gehoor. Dit het haar laterjare aangespoor om verpleegwese te gaan studeer om uitgeplaas te word na ‘n sendinghospitaal in Noord-Afrika. Min het sy geweet dat sy haar lewensmaat en eggenoot, die alombekende Oom WAS, sou ontmoet voordat sy die sendingveld kon betree. Tog het die egpaar saam ‘n pad begin stap wat sendingwerk betref. Skaars twee jaar nadat hulle getroud is, het hulle met sendingwerk onder die Venda-gemeenskap begin, ‘n taak wat die egpaar met volharding verrig het vir 37 jaar, tot en met haar dood.
Oom WAS onthou met ‘n glimlag sy en Tannie Berdina se lewenspad, maar die trane sit maar vlak. Hy onthou haar pa, een van die eerste onderwysers en skoolhoofde by Louis Trichardt Laerskool, wat later die bioskoop, waar Savewell vandag is, sou bedryf. Hy onthou hoe sy gehelp het met opleiding by Tshilidzini Hospitaal, hoe sy altyd ‘n pakkie kos of iets gehad het vir iemand in nood en hoe sy week na week elke Woensdagmiddag vir meer as 20 jaar gereël het vir ‘n video of DVD-vertoning by Ons Tuiste. Hy onthou hoe sy verlede Woensdag dit nie kon doen nie, want sy het nie lekker gevoel nie.
“Dit was haar bediening en jy moes niks reël vir ‘n Woensdag nie,” vertel Oom WAS.
Altyd aan mekaar se sy, was Oom WAS en Tannie Berdina onafskeidbaar van mekaar. Saam was hulle ook vir die afgelope 17 jaar onlosmaaklik betrokke by die plaaslike Gideons, waarvan Oom WAS steeds president is.
“Armes en ou mense was na aan haar. Sy het altyd gesê ‘Liefde is nie liefde, as jy dit nie gee nie’,” vertel Oom WAS. In Tannie Berdina se dagboek blaai hy na een van haar inskrywings wat lees: “Net U, Jesus, kan my gelukkig maak! Gelukkig is U, my God wat my verlos het.”
Wyle Tannie Berdina word Donderdag, 8 November, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die diens sal waargeneem word deur past. Andries van Heerden. Sy word oorleef deur haar man, vyf kinders (Lourens, Willem, Loretta, Nico en Annelie) en tien kleinkinders.
Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal se woorde van vertroosting, met spesiale dank aan Loretta Mynhardt, dr. Anton Stroebel, past. Van Heerden en Helena Mellet, wat die aand van Tannie Berdina se afsterwe vir Oom WAS bygestaan het.
“Ons en die hele gemeenskap gaan haar baie mis,” het die familie gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
