

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 November 2012
Die groei van die wit bevolking in die Makhado munisipale area het volgens die 2011 sensusopname persentasiegewys ietwat swakker gevaar as 10 jaar gelede.
Dit is een van die interessanthede wat uitgewys word in die land se jongste sensusstatistiek wat onlangs bekendgemaak is.
Die Zoutpansberger het bietjie gaan kyk hoe die demografiese landskap, inkomsteskale en arbeidsmark, met spesifieke verwysing na die Makhado en Musina munisipale areas, sedert die vorige sensus in 2001 verander het.
Makhado Munisipaliteit
Volgens verlede jaar se sensus het die getal inwoners in die Makhado munisipale area sedert 2001 vanaf 497 088 gegroei na ‘n populasie van 515 511. Die swart bevolking verteenwoordig 97.4% (502 122) van dié syfer met ‘n verteenwoordigende persentasie wat bykans dieselfde gebly het as in 2001 (97.5%) toe dié bevolkingsgroep se totaal op 484 418 inwoners gestaan het. Die wit bevolking se verteenwoordiging het van 2.1% (10 224 inwoners in 2001) na 2% (10 457) gedaal, met ‘n skrale aanwas van net 233 inwoners. Die bruin bevolking se verteenwoordiging het presies dieselfde gebly op 0.2% met ‘n daling in aanwas van 1 168 na 1114 inwoners, terwyl die Indiër/Asiër bevolking se verteenwoordiging van 0.3% na 0.4% gegroei het met ‘n aanwas van 540 van 1278 in 2001 na 1 818 inwoners.
Interessant genoeg is bykans 50% van die swart bevolking in die Makhado-area onder die ouderdom van 19 jaar. In teenstelling hiermee, verteenwoordig die wit bevolking in dieselfde ouderdomsgroep net meer as 25% van hul totale bevolking, terwyl die persentasie 36% is vir die bruin bevolking en net meer as 31% vir die totale Indiër/Asiër bevolking. Die grootste verteenwoordiging ten opsigte van ouderdom in al die bevolkingsgroepe (behalwe die swart bevolking) ten opsigte van hul getalle, is in die 20 tot 45 jaar kategorie (wit = 38%, bruin = 39.7% en Indiër/Asiër = 47.4%). Slegs 33.7% van die swart bevolking val in hierdie ouderdomsgroep. In die ouderdomsgroep 46 tot 60 jaar per bevolkingsgroep is die verteenwoordiging: swart 10.3%, wit 20.7%, bruin 14.5% en Indiër/Asiër 12.7%. In die ouderdomsgroep 61 tot 120 jaar het die wit bevolking ten opsigte van hul totaal die beste verteenwoordiging met 16%. Slegs 8.6% van die swart bevolking is in laasgenoemde ouderdomsgroep, 9.9% in die bruin bevolking en 8.6% in die Indiër/Asiër bevolkingsgroep.
Wat inkomste betref is dit duidelik dat die gaping tussen ryk en arm al groter geword het in die Makhado munisipale area die afgelope 10 jaar. Sedert 2001 het die getal mense wat minder as R19 600 per jaar verdien gestyg van 60 038 tot ‘n ongelooflike 230 906. Van dié totaal verteenwoordig die swart bevolking 99.3%, die bruin en Indiër/Asiër bevolking 0.1% en die wit bevolking 0.5%. In dieselfde tydperk het die getal mense wat meer as R614 400 per jaar verdien van 468 na 665 gestyg. Hiervan verteenwoordig die swart bevolking 67.8% (wat ‘n daling was van die 72% in 2001), die wit bevolking 29.9% (wat ‘n styging is van die 24.8% in 2001), die Indiër/Asiër bevolking 1.4% en die bruin bevolking 0.9%.
Wat die verspreiding van inkomste betref, lyk die prentjie nie goed nie. Presies 84% (73.1% in 2001) van die totale bevolking in die munisipale area verdien tussen R1 en R1 600 per maand. In totaal verdien 5.6% van die bevolking tussen R1 601 en R3 200 (11.9% in 2001) per maand met 3.3% wat tussen R3 201 en R6 400 (10.1% in 2001) verdien, 3.6% wat tussen R6 401 en R12 800 (0.7% in 2001) verdien, 2.7% wat tussen R12 801 en R25 600 (0.7% in 2001) verdien, 0.6% wat tussen R25 601 en R51 200 (0.2% in 2001) verdien en 0.2% wat meer as R51 201 (0.6% in 2001) per maand verdien.
Op ‘n positiewe noot het werkloosheid in die Makhado munisipale area die afgelope 10 jaar afgeneem van 59 633 in 2001 tot 45 688 in 2011. Die swart bevolking maak steeds die grootste persentasie van die totale werkloosheidsyfer (99.1%) op, met die wit bevolking wat ‘n 0.7% werkloosheidsyfer het en die bruin en Indiër/Asiër bevolkingsgroepe beide met ‘n 0.1% werkloosheidsyfer.
Nog goeie nuus is dat die getal werkende mense in die munisipale area sedert 2001 van 60 038 tot 78 433 gestyg het. Dit wil sê dat 18 395 nuwe werksgeleenthede geskep is. Weereens is die swart bevolking bo-aan die lys as dit kom by die getal werkende mense, met 92.2% van die 78 433 mense wat werk. Die wit bevolking verteenwoordig 6.4% van die totaal en die bruin en Indiër/Asiër bevolkingsgroep onderskeidelik 0.4% en 1%.
Musina Munisipaliteit
Volgens die 2011-sensusopname het die populasie in die Musina munisipale area sedert 2011 van 39 307 tot 68 127 gestyg. Die swart bevolking verteenwoordig 94.4% (64 285) van die totale syfer, met 27 461 nuwe inwoners, terwyl die wit bevolking 4.8% (3 284) daarvan uitmaak met ‘n aanwas van 942 sedert 2001. Die Indiër/Asiër en bruin bevolking verteenwoordig onderskeidelik 0.5% (329) en 0.3% (229) van die huidige populasie.
Van die 64 285 lede van die swart bevolking is net meer as 37% onder die ouderdom van 19. In dié ouderdomsgroep is die wit bevolking se verteenwoordiging 26.8%, met 28% in die bruin bevolking en 20.4% in die Indiër/Asiër bevolking. Die grootste verteenwoordiging ten opsigte van ouderdomsgroep onder al die bevolking is in die 20-tot-45-jaar kategorie, met swart op 51.6%, wit op 39.2%, bruin op 50.2% en Indiër/Asiër op 70.2%. Die verteenwoordiging ten opsigte van ouderdom per bevolking in die 46-tot-60-jaar kategorie is swart 7.7%, wit 20.9%, bruin 19.7% en Indiër/Asiër 7%. In die 61-tot-120-jaar afdeling is die verteenwoordiging per bevolkingsgroep swart 3.2%, wit 13.2%, bruin 2.2% en Indiër/Asiër 2.4%.
Wat gemiddelde inkomste in die Musina munisipale area betref, verdien 27 300 mense (14 069 in 2001) minder as R19 600 per jaar, met die swart bevolking wat 98.9% van die totale syfer verteenwoordig, wit 1% en bruin- en die Indiër/Asiër bevolking 0.1%. Die grootste verandering ten opsigte van inkomste was in die afdeling van mense wat meer as R614 400 per jaar verdien. Dié getal mense het gestyg van 34 tot 196, met die swart bevolking wat 56.6% van die totaal verteenwoordig, in teenstelling met die 17.6% verteenwoordiging in 2001. In teenstelling hiermee verteenwoordig die wit bevolking tans 36.7% van dié inkomstegroep, in teenstelling met hul 82.4% verteenwoordiging in 2001. Die bruin en Indiër/Asiër bevolking verteenwoordig onderskeidelik 2% en 4.6% van diegene wat meer as R614 400 per jaar verdien.
Wat die verspreiding van inkomste betref, verdien 73.1% (teenoor 83.4% in 2001) van die totale bevolking in die Musina area minder as R1 tot R1 600 per maand, met 11% in die R1 601 tot R3 200 per maand kategorie, 6% in die R3 201 tot R6 400 kategorie, 5.3% in die R6 401 tot R12 800 kategorie, 3.1% in die R12 801 tot R25 600 kategorie, 1% in die R25 601 tot R51 201 kategorie en 0.5% in die R51 201 en meer per maand kategorie.
Wat werkloosheid betref in die Musina area, het die syfer bykans konstant gebly met ‘n van 98.5% (5 417 mense in 2001) na 98.4% (5 888 mense in 2011). In totaal is 98.4% van dié syfer van die swart bevolking, 1.5% van die wit bevolking en 0.1% van die bruin bevolking.
Op ‘n positiewe noot het die getal werkende mense in die Musina area van 16 193 in 2001 tot 25 457 in 2011 gestyg. Die swart bevolking verteenwoordig 92.4% (soos in 2001) van die werkersklas, met die wit bevolking 6.4%, bruin bevolking 0.4% en Indiër/Asiër bevolking 0.8%.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
