

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 November 2012
Die kultuurhistoriese skilderye van C.R. de Wet van Wyk, wat sowat ‘n dekade gelede hul plek teen die mure van die burgersentrum in Makhado (Louis Trichardt) verloor het, is gevind en te voorskyn gebring.
Dit kan moontlik wees as gevolg van die besliste optrede van Makhado se nuwe munisipale bestuurder, mnr. Isaac Mutshinyali. Die jongste navraag oor die skilderye is in Augustus vanjaar vanaf die Weskus ontvang toe ‘n broerskind van die skilder by die Zoutpansberger navraag gedoen het. Vanaf begin September is verskeie skrywes aan die munisipale woordvoerder gerig, maar sonder positiewe terugvoer. ‘n Afskrif van die versoek is op 28 September persoonlik aan die munisipale bestuurder oorhandig en is opgevolg deur ‘n skrywe op 29 Oktober, wat daarop gewys het dat dit ‘n oortreding is om te weier om kulturele goedere ten toon te stel.
“Die munisipaliteit bevorder kulturele aktiwiteite, daarom is die skilderye van C.R. de Wet van Wyk nog in ‘n goeie toestand en word dit vertoon in die munisipale gebou,” is die antwoord wat op 30 Oktober vanaf die munisipaliteit ontvang is.
Dit was ‘n verrassende wending nadat die skilder se nasate en familie al sedert 2005 poog om klaarheid oor dié vyf olieverfwerke, wat in opdrag van die destydse Louis Trichardt Stadsraad deur Van Wyk geskilder is, te kry. Die werke kan beskryf word as grepe uit die dagboek van Louis Trichardt en beeld die geskiedenis en kultuurbedrywighede van die Voortrekkers van die Soutpansberg-omgewing op ‘n manier uit wat van besondere kunsaanleg en deeglike navorsing getuig. Die skilder is in 2001 op 83-jarige ouderdom oorlede. Sy kleinseun, De Wet van Wyk, het alreeds in 2005 ‘n aanbod op die skilderye gemaak.
Van Wyk het op 1 November gesê dat die munisipale bestuurder hom geskakel en gevra het of sy aanbod nog staan, waarop hy sy aanbod herhaal het. Hy is ook oop vir onderhandeling. Van Wyk het gesê dat sy moeder gaan kyk het na die skilderye en dat dit op die grond in ‘n munisipale kantoor staan. Uiteindelik bevind die skilderye hulself nie meer in ‘n onbekende bergplek nie. Die familie se grootste begeerte is dat die skilderye op ‘n plek vertoon word waar dit tot hul reg kan kom en waar dit met deernis versorg sal word. Hulle sou graag die skilderye op bruikleen aan die Zoutpansberg Skermutseling en Erfenismuseum by Lalapanzi beskikbaar wou stel. Dié erfenismuseum is ‘n privaatmuseum.
De Wet se ma, me. Annetjie van Wyk, het in gesprek met die munisipale bestuurder getree. Die Van Wyks is gevra om ‘n skriftelike aanbod te maak wat voor die Raad sal dien. Daar was nie ‘n waarborg dat die Raad sou besluit om dit aan die familie te koop aan te bied nie. Volgens me. Van Wyk is daar gesê dat die Raad ook op ander alternatiewe kan besluit.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
