

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 November 2012
Die trane het verlede week geloop tydens die publieke veiling van die trop donkies wat vir etlike weke in die munisipale skut aangehou is.
Dié trop van 35 donkies het nie net diep in die harte van hul weldoeners gekruip nie, maar ook aanleiding gegee tot heelwat debat en besprekings oor die oënskynlike haglike toestande van die munisipale skut op Makhado (Louis Trichardt).
Al 35 donkies is Woensdag opgeveil. Die bod per donkie is op R300 begin en van die donkies is vir tot R1 600 per donkie verkoop. Volgens navrae wat die koerant gedoen he, verkoop donkies plaaslik, in die informele nedersettings, vir tussen R400 en R550. ‘n Koper van Giyani het egter gesê dat donkies wat in ‘n goeie kondisie is daar vir tot R1 200 verkoop word.
Die besonderse hoë pryse het tot gevolg gehad dat verskeie boere wat van die donkies wou aankoop vir hul leeuteël-projekte sommer vroeg huis toe is.
Esmé Mostert en Helena van den Heever, wat vir die trop van aanvanklik 37 donkies gesorg het tot en met die veiling, se harte was gebroke na die veiling. Hulle kon net nege donkies koop vir ‘n totale bedrag van R6 000.
Mostert het Halfoor en Oupa gekoop. Van den Heever en haar man het ook twee donkies gekoop. Die oorblywende donkies het huise gekry by Flip Joubert, Sanet Haasbroek en Walter Jehle.
Mostert en Van den Heever het ná die veiling hulle daaraan getroos dat ‘n eienaar wat so duur vir ‘n donkie betaal ook goed sal kan sorg daarvoor. Hulle het verder ook die hoop uitgespreek dat die munisipaliteit met die inkomste van die veiling nou die nodige opgraderings by die skut sal doen.
“Hulle [die munisipaliteit] het nog nie die laaste van ons gehoor nie. Ons sal bly opvolg totdat die skut aan al die wetlike voorskrifte voldoen,” het Mostert na die veiling gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
