ADVERTISEMENT:

 

Shefeera-plantasie brand af

 

News  Date: 05 September 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Ongehoorsaamheid aan die verbod op oop vure vanaf 1 Augustus het vermoedelik veroorsaak dat 25 hektaar van die Shefeera plantasie naby Welgevonden afgebrand het in 'n verwoestende brand wat op 26 Augustus uitgebreek het.

Die flinke reaksie van die Zoutpansberg Brandweervereniging het verhoed dat die skade nog groter was. Die brand het vermoedelik ontstaan as gevolg van persone wat byneste uitgehaal het. Emmertjies met heuning is op die toneel gevind. Die vernietigende vuur het by tye vyftien meter hoog in die lug opgevlam. In sekere dele van die plantasie het kroonvuur die bome van onder tot by hul kroon gebrand, sodat slegs kaal swart stamme en smeulende as daarvan oorgebly het. In ander dele is daar bo aan die toppe van die bome nog blare te sien. Die totale skade is nog nie finaal bereken nie.

In die verlede het daar twee groot brande by die plantasie uitgebreek, op 2 Oktober 1989 en 28 Junie 1994, waar in beide gevalle 1 000ha afgebrand het. "Hierdie brand kon katastrofies gewees het," sê mnr. André Kruger, bestuurder van die Shefeera Plantasie, wat aan Steven's Lumbermills behoort. "Met die droë, warm weersomstandighede, die spoed van die wind en die felheid van die hitte, het hierdie vuur dieselfde potensiaal gehad as die groot brande van 1989 en 1994. 'n Derde brand van so 'n aard kon 'n einde aan die hele bedryf gemaak het."

"Ons redding was die spoed waarmee die gemeenskap gereageer het en die ongelooflike bystand wat hulle verleen het. Ons sê baie dankie aan almal," sê mnr. Kruger.

Die verbod op oop vure vanaf 1 Augustus is gepubliseer in die Staatskoerant van 11 Julie. Die Departement van Waterwese en Bosbou het 'n streng waarskuwing teen die gevaar van veldbrande uitgevaardig. Veldbrande verwoes die ekologie en werk vernietigend in op volhoubare ekonomiese ontwikkeling. Die brandverbod geld van 1 Augustus tot 31 Oktober of tot daar 100mm reën geval het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines