

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 September 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die maksimum sekuriteit gevangenis hier is die afgelope week bekroon met die gesogte SABS ISO 9001:2000 gehalte toekenning. Die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteit Gevangenis is die enigste in Afrika en een van die weiniges ter wêreld wat met hierdie internasionale toekenning kan spog. Die bestuur en personeel van die gevangenis is uit verskeie oorde hoë lof toegeswaai vir dié uitmuntende prestasie.
Verteenwoordigers van die beheerorganisasie in die VSA was ook teenwoordig toe die toekenning verlede week formeel aan die bestuur oorhandig is. Dr. E. Meintjies van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde het dit as 'n beduidende prestasie beskryf, veral in die lig van die feit dat dit so 'n jong inrigting is. Sy het die bestuurspan lof toegeswaai en gesê dit is die enigste instelling in Afrika wat die betrokke standaard kon bereik en een van net 'n paar in die hele wêreld. Sy het gesê die span beoordelaars van die SABS was besonder beïndruk met die harde werk en toewyding van die span.
Talle eregaste, waaronder ook die Suid-Afrikaanse Kommissaris van Korrektiewe Dienste, het 'n glansonthaal bygewoon wat ten tyde van die oorhandiging by die gevangenis aangebied is.
Een van die gaste, me. Marie Helm, voorsitter van die DA se bestuurskomitee in die plaaslike munisipaliteit, het in 'n skriftelike verklaring hulde gebring aan mnr. Stephen Korabie, die besturende direkteur en sy hoogs gemotiveerde personeel. "Ons wil graag almal aanmoedig om na hierdie instelling se prestasie te kyk as 'n voorbeeld vir ons almal. Dit is moontlik om die beste in Afrika en een van die bestes in die hele wêreld te wees. Kom ons almal streef daarna om hul uitmuntende voorbeeld na te volg, teen alle struikelblokke in."

ADVERTISEMENT:
