

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 September 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Drie lede van 'n misdaadsindikaat wat "werksgeleenthede" by die nuwe maksimum sekuriteit gevangenis aan lede van die publiek verkoop het, is vandeesweek hier in die landdroshof gevonnis.
Die drie, Sarah Ratombo (43) van Machau, Rudzani Thelma Mashamba (24) en Portia Mulilo Malema (24), albei van Louis Trichardt, het tereg gestaan en is skuldig bevind op dertien aanklagte van bedrog, waarby R37 500 betrokke was. Hulle is deur landdros Bennie Smith gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf elk, wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Al drie sal egter vir die duur van die twaalf maande onder korrektiewe toesig verkeer, wat aan verskeie voorwaardes onderworpe is. Hulle sal vir die tydperk onder huisarres verkeer, 'n reeks programme onder die toesig van die Kommissaris van Korrektiewe Dienste moet deurloop, gratis gemeenskapsdiens moet verrig en die volle bedrag van R37 500 aan die klaers moet terugbetaal.
Onder die voorwaardes van hul huisarres (vanaf 18:00 tot 07:00) word hulle verbied om gedurende die tydperk alkohol of dwelmmiddels te gebruik en mag hulle ook nie sonder die nodige kennisgewing hul woon- of werksadres verander nie.
Die drie sal vir die duur van twaalf maande elk 16 ure per maand gratis gemeenskapsdiens onder die toesig van die Kommissaris moet verrig. Die bedrag van R37 500 sal vanaf Oktober vanjaar in maandelikse paaiemente terugbetaal moet word, sodat dit teen Januarie 2005 volledig vereffen is. Die saak het voortgespruit uit klagtes van mense wat deur die beskuldigdes werksgeleenthede en opleiding by die nuwe gevangenis aangebied is teen betaling van bedrae wat gewissel het van R2 000 tot R6 000 per persoon.
Vier mense is aanvanklik in November 2002 in verband met die klagtes ondervra. Die Staat het na 'n indringende ondersoek alle klagtes teruggetrek teen die vierde persoon, wat aanvanklik ook onder verdenking was.
Die beskuldigdes het op 4 November, 2002 vir die eerste keer in die hof verskyn en is op 29 Julie vanjaar skuldig bevind.
Staatsaanklaer Hilke Janse van Rensburg het die Staat se saak teen die beskuldigdes behartig.
Die saak het opspraak verwek toe die beskuldigdes aanvanklik beweer het dat hulle in samewerking met die gevangenishoof opgetree het. Die aantygings is na 'n intensiewe ondersoek verwerp en die hoof is van alle blaam onthef.

ADVERTISEMENT:
