

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 September 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Augustus was een van die droogste maande die afgelope 26 jaar, volgens 'n noukeurige reënvalregister van die Shefeera Plantasie. Hierdie jaar het daar geen reën in Augustus geval nie.
Ander droë Augustusmaande met 'n nul reënvalsyfer was in 1991, 1997 en 2000. In 2000 het die nul reënvalsyfer in Augustusmaand egter nie 'n effek gehad nie, omdat vanaf Oktober 1999 tot September 2000 met die vloede, 'n buitengewone reënval van 3179.5mm aangeteken is.
Die gemiddelde reënval per jaar, waar 'n jaar strek van Oktober die vorige jaar tot September die huidige jaar, is 1281.8mm. Vanaf Oktober 2002 tot die einde van Augustus 2003 is daar nog net 772.3mm reën gemeet. Dit volg op die vorige jaar se lae reënvalsyfer van 821.6mm. Hierdie jaar se droë Augustus is voorafgegaan deur 'n ewe droë Julie, waarin 5.0mm reën gemeet is.
Indien September nie welkome reën bring nie, sal 2002/2003 die droogste jaar wees buiten 1982/1983 en 1991/1992, toe in beide gevalle minder as 700mm per jaar gemeet is. Die jare met bogemiddelde reënvalsyfers van bo 1900mm was 1977/1978, 1995/1996 en 1999/2000. Die afgelope drie jaar was die reënval onder die gemiddeld.

ADVERTISEMENT:
