

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 August 2002
LOUIS TRICHARDT - ANC lede van die Makhado Munisipaliteit het vandeesweek besluit dat die oorblywende erwe in Uitbreiding 9 in Louis Trichardt, nie per veiling nie, maar uit die hand verkoop moet word.
Op voorstel van raadslid M.I. Kutama is die Uitvoerende Komitee se aanbeveling van 'n veiling van erwe gewysig. Beide die DA- en UDM-raadslede het hulle van die besluit gedistansieer. Raadslid Marie Helm van die DA het gesê so 'n besluit laat ruimte vir korrupsie.
Die Munisipale Bestuurder mnr. Reuben Rambado het ter inligting die raadslede daarop gewys dat die verkope van erwe 'n belangrike bron van inkomste vir die munisipaliteit is. Op 'n onlangse veiling van erwe in Eltivillas is al die woonerwe verkoop vir pryse aansienlik hoër as die insetprys. Die sestig woonerwe in Uitbreiding 9 is gesogte eiendom.
Na bespreking is besluit om die wysiging te aanvaar. Die woonerwe sal nou uit die hand verkoop word teen verkooppryse wat deur plaaslike waardeerder dr. Suwil Rudolph vasgestel sal word.
Volgens die besluit sal die vasgestelde verkoopprys die aanlegkoste van munisipale dienste, met die insluiting van teerstrate, moet verhaal.
Die raad het besluit om die bestaande beleid om grond per veiling te verkoop, in sy geheel te hersien.

ADVERTISEMENT:
