

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2012
Nóg die Olimpiese droom van Anandie Oosthuizen, ‘n briljante jong swemmer van Eric Louw, nóg die sprankelende geaardheid van haar klasmaat, Rona-Lee Johannsen, kon gedemp word deur die tragiese motorongeluk wat hulle altwee in rolstoele gelaat het.
Die noodlottige ongeluk op 29 Maart vanjaar, waarin nog twee van hul skoolmaats dood is, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Tog is die onblusbare blymoedigheid en positiwiteit van Anandie en Rona-Lee besig om die skool en die hele gemeenskap van Musina saam te smee in ‘n merkwaardige bondgenootskap wat gekenmerk word deur oorweldigende welwillendheid.
“Mens kan nie glo watter ongelooflike vriende die Here na jou toe stuur in sulke moeilike tye nie. Van die dag van die ongeluk is ons net omring deur liefde, hulp, simpatie, bemoediging en vertroosting.”
“Ons het nie woorde nie – kan net sê baie, baie dankie.”
Dit is die reaksie van mev. Annelie Oosthuizen en mev. Nelie Carstens, die merkwaardige toegewyde moeders van die twee ernstig-beseerde meisies.
Rona-Lee is ‘n parapleeg en Anandie ‘n kwadrupleeg ná die tragiese ongeluk. Tog het hulle verlede Vrydag stralend, met ‘n glimlag en rustige selfvertroue, in hul rolstoele vir hul finale Graad 11-eksamenvraestel by die skool opgedaag. ‘n Lid van die skool se beheerraad het met hul vervoer gehelp. Maats, wat pal tydens die voorbereiding vir die eksamen saam kom leer het, was ook byderhand om met die rolstoele by die skool te help.
By die skool is ‘n spesiale oprit, waar die kinders met hul rolstoele regstreeks vanuit die voertuig op die stoep voor die klaskamers kan inbeweeg, deel van die omvattende rolstoelvriendelike toevoegings en wysigings wat die personeel en beheerraadslede by Eric Louw aangebring het. Dit sluit spesiale opritte by die deure van al die klaskamers op die grondvloer in. Vir die klasse wat die rolstoel leerders aanvanklik op die boonste verdiepings sou moes bywoon, ruil die onderwysers nou klas. ‘n Spesiale lokaal is ingerig en ‘n personeellid spesiaal opgelei om vir Anandie toetse en mondelinge eksamens deur middel van die amanuensis-proses te laat aflê. Dit behels ‘n opgeleide griffier, wat die vraestel vir die student omblaai, die mondelinge antwoorde neerskryf en terselfdertyd ‘n klankopname van die antwoorde maak, onder die wakende oog van ‘n spesiale toesighouer.
Die twee meisies is sedert Julie vanjaar terug by die skool, ná maandelange mediese versorging, verskeie ernstige operasies en intensiewe ortopediese rehabilitasie.
Die afgelope week was hulle in die nasionale kollig by Jacaranda FM se Goodmorning Angels-projek. Die radiostasie, in samewerking met SEESA, een van Suid-Afrika se grootste werkgewersmaatskappye, het ‘n skenking van R30 000 aan Anandie en Rona-Lee gemaak. ‘n Oudskolier van Eric Louw, Magdarie van Staden, wat tans skakelbeampte is by SEESA, het die skenking bewerkstellig.
Hoewel die twee meisies goed inskakel en die beste maak van hul omstandighede, is die finansiële druk op hul ouers geweldig groot. Hul medikasie per maand kos nagenoeg R1 500 elk en hul noodsaaklike weeklikse terapie by die biokinetikus beloop ‘n verdere R2 000 elk per maand. Anandie, ‘n briljante leerder met provinsiale kleure vir swem en voorheen ook ‘n alsydige veldatleet, benodig ‘n elektroniese rolstoel, omdat sy nie die gebruik van haar hande het nie. Rona-Lee, ‘n sprankelende, opgeruimde jong meisie, benodig ‘n spesiale ligter rolstoel vir beter mobiliteit. Sy en Anandie is altwee lede van die skool se leerlingraad en doen steeds getrou hul diens op die stoepe en behartig ook hul pligte in hul onderskeie portefeuljes.
Oor die reaksie van hul maats en die hele gemeenskap is hulle dit eens: “Al ons verhoudings - met ons ouers, ons vriende en lede van die gemeenskap - het merkbaar verdiep. Ons is almal nou soveel nader aan mekaar.”
Ma Annelie stem heelhartig saam: “Ek was vir vier maande in Pretoria, waar ek gratis kon woon en wonderlike mense oor my pad gekom het. Terwyl ek weg was, het wonderlike mense ingespring om te bou en breek om my huis vir Anandie toeganklik te maak. Vriendinne het haar kamer pragtig gemaak. Ek het ‘n pragtige nuwe huis, danksy Senta Wessels van Makhado (Louis Trichardt) wat die huisplanne verander en die bouers gehelp het.
"Anandie se jarelange Olimpiese droom het by my die gedagte laat ontstaan om vir haar as deel van haar terapie, weer te leer swem. ‘n Maand later is daar onder leiding van Marlene, Hanli en Neels Joubert ‘n swembad gebou, met die hulp van talle skenkers!”
‘n Spesiale hysapparaat moet nou gevind word om die twee meisies vir hul waterterapie in- en uit die swembad te help.
Skoolhoof me. Kobie Mostert beaam die aangrypende meelewing en oorweldigende welwillendheid van die gemeenskap, die skool se personeel en veral ook die skool se beheerraad. Sy het hoë waardering daarvoor.
“’n Skool kan in geen opsig werklik welslae behaal sonder die steun van ‘n bekwame beheerraad en ‘n meelewende gemeenskap nie. Die hartseer gebeure van die ongeluk, en die trauma wat dit vir almal meegebring het, het ons opnuut ons onderlinge afhanklikheid van mekaar laat besef,” het Kobie gesê.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
