

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 December 2012
Sekuriteit by die munisipale boorgate net wes van Makhado (Louis Trichardt) is van kardinale belang in die stryd om watervoorsiening aan die dorp te herstel.
Die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) gaan tydens die aanpassing van die begroting in Desember daarna kyk om vir sekuriteit by die boorgate te begroot.
Daar was vantevore ‘n elektroniese sekuriteitsisteem, met monitors wat dadelik gewaarsku het as daar met die boorgattoerusting gepeuter word. Terwyl die monitors goed gefunksioneer het, het die vlaag van vandalisme by die boorgate gestop. Dié toerusting is steeds by elke boorgat te sien, maar is buite werking weens 'n gebrek aan onderhoud en omdat die batterye nie in stand gehou word nie. Diefstal van koperkabels by transformators en boorgatpompe was vervolgens weer aan die orde van die dag.
Herstelwerk by die boorgate het geskied teen ‘n koste van R2.4 miljoen, maar asof die koperdraaddiewe net gewag het vir ‘n nuwe besending, het hulle binne ‘n maand of wat weer ingeklim en groot skade veroorsaak. Inwoners het dit deeglik ontgeld met droë krane.
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het hulle vir jare lank beywer vir beveiligde boorgate en het in Maart verlede jaar reeds gesê dat die waterkrisis ‘n mensgemaakte instandhoudings- en bestuurskrisis is. Die Demokratiese Alliansie het hul sterk uitgespreek dat die munisipaliteit hulle stelsels moet beskerm. AfriForum is die jongste organisasie wat hul stem bygevoeg het en by elke geleentheid en ontmoeting met munisipale amptenare die sekuriteit van die boorgate beklemtoon. Verskeie inwoners het by die waterkrisisvergadering op 18 Julie gesê dat dit onaanvaarbaar is dat die munisipaliteit nie hul boorgate beveilig nie.
“Op die oomblik het ons nie genoeg fondse om elke enkele boorgat te beveilig nie. Die R2.4 miljoen is in die drein af. Ons gaan egter by die Desember begrotingsaanpassing probeer om ‘n begroting vir die beveiliging van die boorgate te kry, ” het mnr. Frederick Tshivengwa, tegniese bestuurder van die VDM, Maandag gesê.
Tshivengwa het bygevoeg dat sekuriteitspersoneel binne die VDM sal kan aansoek doen vir sekuriteitsposte by die dorp se boorgate, sodra die Raad die aangepaste begroting goedgekeur het. “Hulle sal dan in Februarie aangestel kan word. Ons verwag ook om uiteindelik terug te gaan na die elektroniese sisteem van monitering by die boorgate, maar ons sal ook fisiese personeel aanstel. Ons sal nooit te veel sekuriteit daar kan hê nie,” het Tshivengwa gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
