

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Jannie Pelser, bekende sanger-dominee, asook koördineerder van die Jesus Projek, het vandeesweek in die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente gesê dat Suid-Afrika moontlik die eerste land kan word waar die media vir gelowiges voorsiening maak deur 'n waarskuwingsteken te plaas op rolprente waarin die Naam van God misbruik word.
Ds. Pelser en die Jesus Projek voer die afgelope een en 'n half jaar 'n intensiewe veldtog teen die misbruik van God se Naam in rolprente en televisie-uitsendings. Die Jesus Projek het reeds 250 000 handtekeninge van ondersteuners verkry. Twee groot teatergroepe het hulself reeds in beginsel bereid verklaar om 'n D-simbool (vir divinity of "godheid") by hulle rolprente aan te bring waar nodig. 'n D-simbool sou beteken dat die Naam van die Here dikwels gebruik word. "Dikwels" word deur die Rolprent- en Publikasieraad gedefinieer as meer as een keer. "Die beste sou wees as die misbruik van die Naam van die Here oral uitgehaal kon word, maar ons land het geen sensuur nie en geen dele mag uit films gesny word nie," sê ds Pelser.
Die onderhandelings met die SAUK, die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKK) en die Rolprent- en Publikasieraad is taai en duur nog voort. Die SAUK is egter deeglik bewus van die probleem, veral ook na 'n intensiewe e-pos- en faksveldtog. Die SAUK het aangevoer dat hulle nie godslasterlike programme uitsaai nie. Ds. Pelser het aangetoon dat net in een maand (April 2003) die Naam van die Here 550 keer misbruik is.
Die veldtog het intussen uitgebrei na die inter-geloofsgemeenskap, toe die Godsdienstige Uitsaaipaneel op 31 Julie eenparig aanbeveel het dat 'n waarskuwingsteken (D-simbool) op programme aangebring moet word. Die SAUK het egter nog nie gereageer nie, aangesien hulle besig is om 'n nuwe beleid te formuleer wat teen Januarie/Februarie 2004 geïmplementeer sal word. Op 23 Augustus is dieselfde versoek om 'n waarskuwingsteken ook aan die Rolprent- en Publikasieraad gerig.
In 'n onlangse gesprek met die SAUK is daar ook aan ds. Pelser deurgegee dat die korporasie wel 'n manier het om te monitor hoeveel kykers na bepaalde programme kyk. Indien kykers ophou om na sekere programme te kyk, sal borgskappe dienooreenkomstig onttrek word.
Ds. Pelser het gelowiges gemaan om met integriteit op te tree en programme af te skakel waarin die Naam van die Here misbruik word. Christene moet ook hulle kinders leer om die Here te respekteer.

ADVERTISEMENT:
