

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Skep kriminele elemente al hoe meer moed vir astrante misdade weens die opvallende ondoeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse Polisie? Behoort besighede en inwoners self beter maatreëls vir die beveiliging van hul eiendom en persoon te tref?
Sulke vrae is nou al hoe meer deel van die groeiende ontevredenheid oor die oënskynlik onbelemmerde toename in ernstige misdaad in die Makhado Munisipale gebied.
In die jongste voorval is een werknemer Maandag gewond en 'n groot bedrag geld gesteel toe rowers weereens helder-oordag by 'n besigheid in die sentrale sakebuurt toegeslaan het.
Verskeie protesvergaderings oor die situasie is reeds gereël deur ontstelde inwoners wat voel dat die polisiediens besig is om hulle in die steek te laat. Die indruk word versterk deur die polisie se volgehoue weiering om tersake misdaadstatistiek bekend te maak. Sakelui sê die polisie hou die publiek in die duister en doen nie genoeg om hulle in te lig oor die heersende stand van misdaad en potensiële gevaarsones in die dorp nie. Die amptelike polisie verweer is dat statistiek eers korrek vertolk moet word, voordat dit vrygestel kan word, anders kan dit onnodige paniek skep.
Tydens 'n vergadering na 'n vlaag van inbrake en gewapende aanvalle in die omgewing van Levubu, het ontevrede lede van die publiek daarop aangedring dat die polisie hulle werk op 'n verantwoordelike wyse moet begin doen en van deeglik opgeleide mense en professionele aksieplanne moet gebruik maak. Die vergadering het gevolg na verskeie voorvalle waarin die polisie nagelaat het om tydig op ernstige klagtes te reageer.
Op 'n massavergadering wat verlede Sondagaand in die suidelike woonbuurte van die dorp gehou is, het inwoners besluit om hulleself in buurtwagte te organiseer in 'n poging om misdaad, wat oënskynlik besig is om handuit te ruk, te help hokslaan. Op die vergadering is besluit om beide by die polisie en by die Stadsraad aan te dring op doeltreffende gesamentlike stappe in die voorkoming van misdaad in die dorp. Die sakegemeenskap in die dorp word veral gevoelig getref.
In die jongste voorval (Maandagoggend) is een persoon beseer en 'n groot bedrag geld gesteel, tydens 'n rooftog helder-oordag by die nuwe winkelkompleks van M. Premjee and Son in Krugerstraat.
Volgens ooggetuies het drie verdagtes omstreeks 09:10 by die winkel in 'n silwer-grys BMW opgedaag, terwyl 'n gepantserde voertuig van Fidelity Guards besig was om geldtrommels op te laai.
'n Veiligheidswag, wat met twee geldtrommels uit die winkel gekom het, is na bewering deur 'n verdagte gepootjie. Toe hy val, het een van die verdagtes een van die trommels gegryp en in die voertuig gespring. Omstanders wat in die winkel ingestorm het, het alarm gemaak en 'n personeellid van die onderneming het uitgestorm en op die voertuig begin skiet. Volgens 'n polisiewoordvoerder is altesaam sewe skote op die voertuig gevuur, maar die rowers het weggejaag. Na bewering het twee dwaalkoëls 'n personeellid van die onderneming in die hand en in die boud getref. Die personeellid, mnr. George Netshisauli, is na die plaaslike hospitaal gehaas, waar hy opgeneem is vir behandeling.
Volgens die polisiewoordvoerder word 'n groot bedrag kontant na die voorval vermis. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Die polisie het lede van die publiek gewaarsku dat die verdagtes uiters gevaarlik is. Indien iemand hulle bemerk, moet die polisie onmiddellik in kennis gestel word.
Vandeesweek se rooftog kom, terwyl die gemeenskap nog met skok reageer op verlede week se astrante rooftog waarin ses gewapende rowers 'n veiligheidswag, die 31-jarige Jerry Munene, koelbloedig doodgeskiet het op die sakeperseel van Shiraaz Distributors in Jeppestraat. Die eienaar is ook aangerand en 'n kontantbedrag gesteel.
Die Demokratiese Alliansie het in 'n mediaverklaring ernstige kommer uitgespreek oor 'n "massiewe toename in geweldsmisdaad in die munisipale gebied." Die verklaring sê gewapende roof, moord, verkragting en kapings is oënskynlik aan die toeneem. Die DA stel voor dat 'n spesiale eenheid deur die polisie opgelei en ontplooi moet word om die soort misdaad te bekamp. Die verskoning dat lede van die polisiediens nie voldoende opgelei is nie, is heeltemal onaanvaarbaar.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
