

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die algemene jaarvergadering van die Zoutpansberg Skou sal om 18:00 op Dinsdag, 9 September by die Bergwater Hotel gehou word.
'n Nuwe bestuur vir die skoukomitee sal by die geleentheid aangewys word. Met die jongste skou verlede maand is 'n rekord besoekerstal gelok. Meer as 20 000 mense het die skou gedurende die drie dae besoek en in die algemeen is besonder goeie terugvoering van sowel uitstallers as besoekers ontvang. Op 'n nabetragtingsvergadering vandeesweek is kennis geneem dat van die uitstallers reeds in alle erns hul staanplek vir volgende jaar wil verseker. Die vuurwerkvertoning op die laaste aand van die skou is allerweë geprys as 'n gepaste skouspelagtige finale hoogtepunt vir 'n skou wat goed georganiseer en vlot verloop het.
Die teenwoordigheid van die afdelings vir lewendehawe, veral beeste, skape, bokke en pluimvee, is deur skougangers aangeprys as 'n besonderse plusfaktor. Daar was ook besondere waardering vir die Suid-Afrikaanse Lugmag se bydrae tot die skouprogram en die deeglike algemene voorsiening van sekuriteit en noodhulpdienste.
Hoewel sake oor die algemeen goed verloop het by die verskillende toegangshekke, is besluit om weer 'n keer te kyk na die stelsel van toegangsbeheer. Die moontlikheid dat die hekdiens aan verskeie kerkgenootskappe uitgegee moet word en dat daar 'n skeiding moet wees tussen kaartjie verkope en toegangsbeheer, is geopper.
Sake waaraan die nuwe skoukomitee aandag sal moet gee, is die inkleding van die vermaaklikheidsprogram tydens die drie skoudae, om sinvol voorsiening te maak vir die bywoningspatroon en uiteenlopende voorkeure van die plaaslike gemeenskap. 'n Verstelling is nodig aan die klank op die pawiljoen.
Georganiseerde vermaak en sigbare beheer het sake by die biertuin gunstig beïnvloed. Die moontlikheid gaan oorweeg word om 'n spesiale, afsonderlike onthaalarea op die skouterrein vir uitstallers, vermaaklikheidskunstenaars en ander eregaste te skep.

ADVERTISEMENT:
