

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Rondloperbeeste en 'n gebrek aan skutgeriewe het 'n egpaar heftig laat reageer toe sewe beeste hul verskyning by die egpaar se woonhuis gemaak het.
Die sewe beeste is onverwags op Dinsdagoggend (19de) ingejaag op die erf van Martin en Lenie Schnetler. Hulle huur 'n huis van die Makhado Munisipaliteit by Ottoshoogte.
"Munisipale beamptes het die beeste hier ingejaag en geen voorsiening vir kos of water is vir die diere gemaak nie," sê mev. Lenie Schnetler. Die beesmis rondom hulle huis het ook 'n gesondheidsrisiko geskep.
Mev. Schnetler sê dat die munisipaliteit hulle verseker het dat iemand sou uitkom om toesig oor die beeste te hou, maar niemand het opgedaag nie. Die beeste het in die nag bly dwaal weens 'n gebrek aan kos. Mnr. Steven Chomse van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) het op Woensdag (20ste) die situasie in oënskou kom neem en was glad nie tevrede met die feit dat diere sonder kos en water gelaat is nie.
Teen Woensdagaand het die beeste uitgebreek en pad toe gegaan. Mev. Schnetler het die munisipaliteit laat weet, waarna beamptes uitgekom het en die beeste iewers heen gejaag het. Hulle het vermoed dat die beeste in 'n buurman se kamp ingejaag is, maar het later vasgestel dat die beeste net in 'n inrypad ingejaag is. Hulle was later nêrens te vinde nie en hulle het hulle vermoedelik weer teerpad toe begewe.
'n Woordvoerder van die munisipaliteit het Dinsdag (26ste) gesê dat ongeveer sewe of agt beeste geskut is en na die vendusiekrale agter Firefly geneem is. In vroeër jare was die geregistreerde skutkamp regoor die begraafplaas, terwyl dit nou sal verskuif na die vendusiekrale. Daar is ook bevestig dat die skutkamp by Ottoshoogte nie operasioneel is nie, soos ook duidelik geblyk het uit die voorval met die sewe beeste wat sonder kos of water daar aangehou is. In Julie vanjaar het die Direkteur van Tegniese Dienste, mnr. Mapholi wel gesê dat Ottoshoogte se skutkamp operasioneel is.
Volgens die skutregulasies behoort daar 'n skutmeester te wees wat noukeurig register hou van alle geskutte diere. 'n Skutmeester is ook verantwoordelik vir die behoorlike versorging van die diere onder sy toesig. Hy mag ook nie afwesig van die skut wees sonder dat hy 'n substituut aangewys het wat in staat is om die skutmeesterswerk tydens sy afwesigheid te verrig nie.
'n Munisipale woordvoerder het bevestig dat die skutkamp by Bungeni nou gereed en as 'n voorbeeld van 'n skutkamp gebruik sal word, deur ook die hele gemeenskap daarby te betrek. Daar is ook in Julie aangekondig dat R320 000 deur die provinsiale regering bewillig is vir die oprigting van dertien skuts in die Makhado Munisipale area. Rondloperbeeste is steeds die oorsaak van talle ongelukke op die streek se paaie. Ses rondloperbeeste is verlede week vermoedelik deur 'n lid van die publiek op die lugmagbasispad doodgeskiet. Dit was waarskynlik die gevolg van die frustrasie van motoriste met die gevaar wat rondloperbeeste skep.

ADVERTISEMENT:
