

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2012
Na niemand-weet-presies-hoeveel jaar nie, kan inwoners van die dorp nou weer daagliks die gelui van die Haantjiekerk se klok hoor, nadat beide die klokmeganisme en die horlosie onlangs weer herstel is.
Die man verantwoordelik vir die herstel van die meganisme is mnr. Robert Jordaan van Mokopane. Dit is sy stokperdjie, al sedert 1974, toe hy ’n kursus in horlosieherstelwerk in die Huisgenoot geadverteer gesien het en dit gevolg het. In 1985 het die Brandfort Moedergemeente hom genader om hulle horlosie, wat toe al 90 jaar in gebruik was, te herstel. Sedertdien het hy ’n hele klompie sulke “pasiënte” gehad wat hy suksesvol onder hande geneem het.
Volgens Robert het ’n klompie uile hulle intrek in die kloktoring geneem en daar nesgemaak. Hulle het bo-op die horlosie geslaap en dit bemors, wat tot gevolg gehad het dat hulle mis ’n kortsluiting veroorsaak het, sodat die skakelaars en ’n deel van die bedrading uitgebrand het. Dit het hy herstel, nadat hy die horlosie heeltemal uitmekaargehaal en skoongemaak het. Die een selektor-arm was ook gebreek. Dit het vir Robert sewe dae geneem om die horlosie en klokmeganisme te herstel.
Die horlosie is gebou deur Johannesburg Horlosie Fabrikante. Ongelukkig is geen datum daarop aangebring nie, maar sulke modelle kom al sedert 1945 voor by ander kerke. Dit is egter nie die oudste van hierdie firma, wat ook die klok in die toring gegiet het, se produkte nie.
Tot en met 1985 met sy afsterwe was mnr Corrie Engelbrecht, as lid van die kerkraad, verantwoordelik vir die instandhouding van die klok en horlosie. Na wat vasgestel kon word, is dit die laaste definitiewe datum wat die horlosie en klok nog reg gefunksioneer het.
Omdat die horlosie so lank gestaan het, het daar in die tussentyd geen slytasie plaasgevind nie. Robert reken omdat die horlosie so stadig loop, kan dit, as dit reg versorg word, nog baie lank loop.

ADVERTISEMENT:
