

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2012
‘n Memorandum om die erns van plaasmoorde uit te lig, is op 30 November deur AfriForum, gesteun deur ander organisasies, by die plaaslike polisiestasie oorhandig.
Dié memorandum is dieselfde dag by honderde polisiestasies ingehandig. ‘n Verslag oor die omvang en impak van plaasmoorde word ook hierdie week aan die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Geneve, Switserland, oorhandig. Onlangse navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies skat die jaarlikse getal plaasmoorde op 98.8 moorde per 100 000 boere. Plaasmoorde gaan ook dikwels gepaard met uitsonderlike wreedheid.
“Ons eis dat die SAPD sy stilte oor plaasmoorde verbreek en dit verklaar en hanteer as ‘n prioriteitsmisdaad … ons eis ook dat die belofte wat in 2003 gemaak is toe die kommandostelsel afgeskaf is, uitgevoer word: naamilk dat ‘n alternatiewe struktuur vir landelike veiligheid op die grondvlak geïmplementeer word,” lui die memorandum.
By die Makhado polisiestasie het kolonel Magala Rambau die memorandum namens die stasiebevelvoerder onderteken. Vir AfriForum was die voorsitter, mnr. Wally Schultz, en twee bestuurslede teenwoordig, bygestaan deur die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, die Soutpansberg Sakekamer, die Dorpswag en die Plaaswag. Kol. Rambau het gesê dat hy die ondertekende memorandums na brig. Justice Tshisaphungo, die ‘cluster’ bevelvoerder sal aanstuur. “Ons gaan voort met normale patrollie en voer nog steeds elke maand ‘n operasie saam met die boeregemeenskap uit,” het Rambau gesê.
Mnr. Christo Snyman, die oorkoepelende plaaswagvoorsitter van die hele Makhado (Louis Trichardt) gebied, sê dat die plaaswag die afgelope maande baie gelukkig is wat plaasaanvalle in die gebied betref. “Die laaste insident wat onder die plaaswagte se aandag gekom het, was die voorval waar mnr. Neels Maritz op Levubu gedurende Mei vanjaar op sy plaas by sy huis aangeval was. Ironies genoeg was dit ook in Mei 2011 toe mnr. Jan Louw van die plaas Nooitgedacht aangeval is. As ‘n mens sien hoe dit op ander plekke in ons land gaan, besef ‘n mens dat dit net genade van Bo is dat dit so goed gaan hier, maar daar is ook faktore op die grond wat ‘n rol speel om insidente te verminder,” sê Snyman en noem die positiewe faktore.
Daar is ‘n goedgevestigde en sterk plaaswag-struktuur in plek. ‘n Goeie radionetwerk is in plek en radiotoetse word elke aand gedoen. Diegene wat nie radio’s het nie, maak gebruik van selfone om mekaar elke aand te laat weet of alles in orde is. Daar word gereelde patrollies deur inwoners van plase gery en na gelang van die situasie word die patrollies verskerp of verminder. Gereelde vergaderings word gehou waar misdaad aangespreek word. Die afgelope ses maande is voorkomingsaksies, patrollies en padblokkades saam met die plaaslike polisie beplan en uitgevoer. Operasie Ystervuis word twee maal per jaar reg deur Limpopo Provinsie gehou, waar observasiepunte deur boere beman word en verdagte voertuie of bewegings aan die SAPD gerapporteer word vir opvolging. Plaaswagvoorsitters se skakeling met die polisie, natuurbewaring en die justisiedepartement is op ‘n baie gesonde vlak.
"Alhoewel daar nog baie harde werk voorlê, is die plaaswagte van hierdie gebied in plek en gereed om teen misdaad op te staan. Dit is net jammer dat daar nog mense in ons gebied is wat skakel as daar ‘n krisis is, maar nie werklik betrokke is en inskakel solank dit goed gaan nie. Mense word hiermee aangemoedig om in hul direkte omgewing uit te vind wie hul plaaswagverteenwoordiger of -voorsitter is. Indien meer mense 'n verskil wil maak teen misdaad, sal dit lei tot nog meer stabiliteit in ons gebied. Misdadigers sal meer kennis neem van die feit dat inwoners op plase nie hulself aan die genade van misdadigers gaan oorgee nie en dat hier ‘n besliste optrede teen misdaad is,” sê Snyman.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
