

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 December 2012
Het skole die reg om leerlinge se eksamenresultate te weerhou indien hulle ouers agterstallig geraak het met die betaling van hul skoolfonds?
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Limpopo het hulle hierdie week sterk uitgespreek oor hierdie praktyk. Dit volg nadat hulle onderskeidelik deur die ouers van ‘n leerling by Pietersburg Hoërskool en die ouers van ‘n leerling by die CVO Skool Zoutpansberg buite Makhado (Louis Trichardt) met klagte hieroor geskakel is.
Volgens provinsiale DA-leier mnr. Jacques Smalle is dit ‘n uiters gevoellose manier om ouers, wat agterstallig geraak het met hul skoolfonds, te dwing om te betaal. “Dit veroorsaak ongekende spanning vir die kind,” het Smalle in ‘n mediaverklaring gesê.
Wat Pietersburg Hoërskool as openbare skool betref, was Smalle van mening dat die skool se optrede heeltemal onwettig is, aangesien dit ingevolge die Skolewet ‘n oortreding is om teen ‘n kind te diskrimineer, omdat die kind nie kan bekostig om skoolfonds te betaal nie.
Volgens mnr. Frits Ahrens, voorsitter van die CVO Skool Zoutpansberg, staan die CVO Skool Zoutpansberg egter nie onder die bepalings van die Skolewet nie, aangesien hulle ‘n privaatskool is. Hierdie wet, sê hy, is van toepassing op openbare skole wat staatsubsidies ontvang. “Ons ontvang geen subsidies van die regering nie en het ook nog nooit vir ‘n subsidie gevra nie,” het Ahrens gesê.
Ahrens het voorts gesê dat dit ‘n skoolreël is dat eksamenresultate weerhou kan word indien ‘n leerling se skoolfonds agterstallig is. Hierdie besluit, sê hy, is tydens ‘n amptelike ouervergadering geneem. In die geval van die CVO Skool Zoutpansberg, word die skool deur die ouers beheer. Alle ouers, sê hy, is van hierdie skoolreël bewus en teken aan die begin van die jaar ‘n dokument waarin hulle onderneem om voor die 10de van elke maand vir 11 maande hul skoolfonds te betaal.
In die geval van die Graad 9-leerling wie se eksamenresultate weerhou word, het Ahrens gesê dat die kind se ouers duisende Rande agterstallig is. Hy sê dat hulle reeds vroeër vanjaar met die kind se ouers ‘n vergadering gehad het hieroor en dat die pa 'n betalingsooreenkoms geteken het om voor die einde van November alle agterstallige skuld te betaal. Dit, het Ahrens gesê, het nie gebeur nie.
“Mens moet onthou dat ons ‘n skool het om te onderhou en salarisse om te betaal. Elke jaar begin ons met ‘n tekort op ons begroting en hierdie geld word deur die jaar verhaal uit fondsinsamelingsprojekte. Die skool kan dit doodeenvoudig nie bekostig as ‘n ouer nie betaal nie,” het Ahrens gesê. Hy voeg by dat die skool nie onsimpatiek staan teenoor ouers wat sukkel om die skoolfonds te betaal nie.
“Met ons Sonneblom Projek probeer ons hierdie ouers ondersteun. Bydraes ten opsigte van die fonds is egter vrywillig en in hierdie stadium is daar doodeenvoudig nie geld in die fonds nie,” het Ahrens gesê.
Intussen het Smalle gesê dat hulle die kantoor van die LUR van Onderwys versoek het om in te gryp in die geskil. Met begrip van Ahrens se verweer dat hulle as privaatskool nie onder die verpligtinge van die Skolewet staan nie, het Smalle ook genoem dat volgens die Vereniging van Privaatskole van Suid-Afrika die weerhouding van eksamenresultate, om ouers te dwing om agterstallige skoolfonds te betaal, met groot omsigtigheid hanteer moet word.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
