

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 August 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Groep van vyf gewapende mans het na bewering Maandagmiddag (2de) twee sekuriteitsbeamptes van Fedility van meer as 'n R100 000 rand beroof in 'n gewaagde gewapende roof naby Louis Trichardt Bierverspreiders.
Volgens die plaaslike SAPD was die twee sekuriteitsbeamptes besig om geld in te vorder, toe hulle deur vyf mans op 'n verlate grondpad in 'n rooi Golf-bakkie voorgekeer is. Die aanvallers het op die sekutiteitsvoertuig losgebrand, en verskeie skote het die voorruit getref.
Die twee sekuriteitsbeamptes is uit hul voertuig geforseer, waarna hulle gedwing is om self die geld uit hul voertuig, wat na bewering nie gesluit was nie, te laai. Die vyf mans het klaarblyklik kort daarna met sowat R123 000 in kontant en R6 000 se tjeks op die vlug geslaan. Niemand is in die voorval beseer nie.
Die "beweerde" gewapende roof het intussen 'n interessante nadraai gehad. Volgens die plaaslike SAPD het die twee sekuriteitsbeamptes teenstrydige weergawes van die roof gelewer en word hulle tans as verdagtes aangehou. Daar was ook nog geen arrestasies ten opsigte van die vyf beweerde gewapende rowers nie. Die polisie ondersoek duur egter steeds voort.
Teen druktyd was dit nie seker of die twee sekuriteitsbeamptes aangekla gaan word nie. Hul name kan ook die bekend gemaak word nie, aangesien hulle nie in die hof verskyn het nie.

ADVERTISEMENT:
