

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 December 2012
‘n Gewapende kaping, waarin derduisende rande buit gemaak is, het verlede week tot ’n wilde jaagtog deur die strate van Makhado (Louis Trichardt) aanleiding gegee.
Dié kapingsdrama het homself Dinsdag, omstreeks 11:00, by Solly’s Discount World in Songozwistraat afgespeel.
‘n Sekuriteitsvoertuig van BVS Sekuriteit het by die onderneming stilgehou om die vorige dag se geld op te tel en te gaan bank. Daar was een sekuriteitswag in die voertuig.
Volgens die eienaar van BVS Sekuriteit, mev. Sanet Haasbroek, het die wag opgemerk dat ’n wit Toyota-bakkie met vier insittendes hom agtervolg het. Die wag het niksvermoedend die geld gaan optel, menende dat die bakkie daar was om iets op of af te laai by Solly’s.
Dit was toe die wag die geld in sy voertuig gelaai het, dat twee van die kapers hom hardhandig gegryp en ‘n vuurwapen teen sy kop gedruk het. Die wag is uit die voertuig gepluk, waarop die kapers in die sekuriteitsvoertuig gespring het en weggejaag het.
Polisie- en dorpswaglede se hulp is onmiddellik ingeroep, waarna daar begin is met ‘n intensiewe soektog na die gesteelde voertuig en rowers. 'n Wilde jaagtog het gevolg, want daar is aanvanklik gedink dat die kapers in Polokwane se rigting gevlug het. Die gesteelde voertuig se opsporingstelsel is geaktiveer, maar dit het aanvanklik bygedra tot die verwarring, terwyl kosbare minute verby getik het. Volgens die stelsel was die voertuig in Pretoriusstraat.
Dorpswaglede het uiteindelik die voertuig in Tshikota opgespoor, byna op die eindpunt van Pretoriusstraat. Volgens ooggetuies het die voertuig met skreeuende bande tussen die huise tot stilstand gekom. Die twee kapers het glo uitgespring en te voet deur die woonbuurt gevlug. Daar word vermoed dat die kapers se medepligtiges in ‘n ander voertuig iewers in die bos naby die Madombidzhapad gewag het.
Niemand is gelukkig tydens die voorval beseer nie. Teen druktyd was die rowers steeds op vrye voet.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
