ADVERTISEMENT:

 

Beste entrepreneurs Saterdag aangewys

 

News  Date: 09 August 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Die Sakepersoon van die Jaar, asook die wenners in die verskillende kategorieë van die entrepreneurskompetisie, sal Saterdagaand aangewys word tydens 'n formele gala-aand wat deur die Soutpansberg Sakekamer aangebied word.

Die gaskunstenaars vir die aand is die bekende sangers, Danie Niehaus en René Mynhardt. Die Sakekamer het besluit om die funksie vanjaar in samewerking met die Lugmagbasis aan te bied en die drag is formeel. Dit word in 'n vliegtuigloods op die basis gehou wat spesiaal versier word om die sowat 500 gaste in elegante styl te akkommodeer.

Die hoogtepunt van die aand is die aanwysing van die Sakekamer se Besigheidspersoonlikheid van die Jaar. Ander trofee wat toegeken word, gaan aan die Opkomende Besigheidspersoon van die Jaar, Diensverskaffer van die Jaar en Werknemer van die Jaar.

Daar was vanjaar drie nominasies vir Besigheidspersoonlikheid van die Jaar, naamlik mnre. André Naudé, Eddie Schlesinger en Godfrey Went. In die kategorie vir Opkomende Besighede, was daar ook drie nominasies. Dié kategorie maak voorsiening vir besighede wat minder as drie jaar in bedryf is. Die nominasies is Lukas Vermeulen van LCV Enterprises, Niel Voges, Danie Cronjè, Pieter Lindeque en Christo Barnard van OMEGA Makelaars en Hannes Visser van Fruit & Veg City.

In die kategorie: Diensverskaffer van die Jaar, was daar twee nominasies. Hulle is Limpopo Melkery (Tobie Fourie) en Beck's Apteek (Leon Bezuidenhout). Soos gebruiklik word 'n toekenning ook gemaak aan die Werknemer van die Jaar. Daar was vanjaar drie nominasies vir dié toekenning, nl. Sonje Thornhill (NTK), Carol Niemann (Coxwell, Steyn, Vise & Naudé) en Laurie Bannatyne (Bridge Motors).

Die name van die wenners in die verskillende afdelings van die Soutpansberg Entrepreneurskompetisie sal ook tydens die gala-aand aangekondig word. Die wenners in elk van die drie afdelings wen kontantpryse sowel as trofeë. 'n Spesiale prys word toegeken aan die skool wat die meeste kwaliteit inskrywings ingestuur het.

Die name van die finaliste in die verskillende kategorieë is die afgelope week aangekondig. In die O/19 tot O/23-kategorie is die finaliste Nico Botes, Calvin Mulaudzi en Marisa Naudé. Die drie finaliste in die Hoërskool-afdeling is Vania Harris, Anri Jacobs en Raine Rauch. Rudolph Boshoff, Madeline Calitz en Marie Manyola is die drie finaliste in de laerskool-afdeling.

Foto's van gaste sal voor die aanvang van die funksie deur Anél Schalkwyk geneem word. Vir besprekings kan sy gekontak word by (015) 516 1617 of 083-415 7272. Foto's kos R20 per foto en moet vooraf betaal word.

Kaartjies vir die gala-aand kos R130 per persoon en is beskikbaar by enige van die bestuurslede van die Sakekamer. Meer inligting is beskikbaar vanaf die sekretaresse by (015) 516 0522 of 082-971 8811. Die funksie begin stiptelik om 18:00.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines