

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die probleem van rondloper beeste op die streek se paaie het die afgelope naweek weer onder die soeklig gekom, nadat ses van dié beeste doodgeskiet is.
Die ses beeste is op die lugmagbasis-pad doodgeskiet, sowat 'n kilometer vanaf die Sinthumule/Bandelierkop-kruising. Dit is nie seker wie die beeste geskiet het nie, maar die vermoede bestaan dat dit 'n lid van die publiek was wat besluit het om die reg in eie hande te neem. Minder as 'n maand gelede het 'n vrou en haar seun ternouernood ontkom, toe hulle met hul splinternuwe voertuig teen rondloper beeste op dieselfde pad gebots het.
Die lugmagbasispad is egter nie die enigste pad waarop probleme met rondloper beeste ondervind word nie. Rondloper beeste op die Vivo-pad is ook 'n rede tot groot kommer. Buiten vir die gevalle wat nie eers gerapporteer word nie, was talle mense reeds die afgelope paar maande in ongelukke met rondloper beeste op dié pad betrokke. Onder hulle was dokter Lappies Labuschagne en selfs die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado.
In Julie vanjaar is daar aangekondig dat die provinsiale regering R320 000 beskikbaar gestel het vir die oprigting van dertien skuts in die Makhado Munisipale area. Terselfdertyd het die Direkteur van Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, mnr. M. Mapholi, aangekondig dat daar streng opgetree gaan word teen eienaars van vee wat hul diere toelaat om onbewaak rond te loop langs en op paaie. Baie inwoners meen egter dit is 'n geval van "te min te laat." Een inwoner het opgemerk dat dié beeste nog baie lewensverlies op die streek se paaie tot gevolg gaan hê en dat hy geen simpatie het oor die feit dat iemand besluit het om die beeste dood te skiet nie.

ADVERTISEMENT:
