

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 August 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die jongste voorval van gewapende roof, waarin 'n plaaslike sekuriteitswag koelbloedig doodgeskiet is, het die afgelope week weereens die vraag laat ontstaan of die polisiediens genoeg doen om inwoners se veiligheid te verseker.
Ses swaar gewapende rowers het Saterdag (16de) omstreeks 12:55 by Shiraaz Distributors in Jeppestraat ingestorm. Een van die rowers het reguit na die sekuriteitswag gestap, wat met sy rug na hulle gestaan het, en hom koelbloedig in die agterkop geskiet. Die sekuriteitswag, die 31-jarige mnr. Jerry Munene van Executive Protection, is op slag dood.
Die rowers het daarna een van twee kliënte wat ten tye van die voorval in die winkel was, gegryp en na 'n kantoor gesleep. Die persoon het aan hulle verduidelik dat hy nie daar werk nie, waarna die eienaar van die besigheid, mnr. Shiraaz Kalla, opgestaan het en aan hulle gesê het dat hy eintlik die persoon is waarna hulle soek. Mnr. Kalla is 'n paar houe met 'n geweerkolf toegedien, waarna die rowers sowat R5 000 gebuit het en met 'n wit Toyota Corolla (vorige reeks) op die vlug geslaan het. Teen druktyd is nog niemand in verband met die voorval aangekeer nie.
Shiraaz Distributors, geleë aan die oostekant van Jeppestraat in die omgewing van Fire Fly, is een van talle besighede wat in dié area deur misdadigers geteister word. Baie besigheidseienaars voel dat die polisie nie genoeg doen om hulle in te lig oor die heersende stand van misdaad in die dorp nie, en watter areas as probleemareas bestempel word. Die argument het grotendeels te doen met die polisie se volgehoue weiering om misdaadstatitieke aan die publiek bekend te stel. Die hoof van die SAPD se skakelafdeling in Thohoyandou, kapt. Ailwei Mushuvhanamadi, het Dinsdag weereens gesê dat hulle vanaf nasionale vlak verbied word om enige statistieke bekend te maak. Hy het erken dat baie mense die polisie se weiering om misdaadstatistiek bekend te stel, kan sien as 'n poging om die ware stand van misdaad, nie net in die streek nie maar ook nasionaal, te verswyg. Kapt. Mushavhanamadi sê egter dat die statistieke eers reg geïnterpreteer moet word, alvorens dit beskikbaar gestel mag word.
Die gebied direk wes van die N1 en suid van Rissikstraat blyk deesdae 'n teelaarde vir misdaad te wees. Buiten die rooftog by Shiraaz Distributors en die moord op die sekuriteitswag, was die veilingskrale in Industriastraat verlede maand die toneel van 'n verkragting, waar twee van die dorp se jong dogters verkrag is. 'n Paar maande voor dié voorval is 'n ander vrou deur vier mans verkrag, nadat haar verkragters eers haar mansvriend met 'n mes doodgesteek het. 'n Maand voor dié voorval is 'n 30-jarige sekuriteitswag, Eric Khakhu van LTT Sekuriteit, by Fire Fly koelbloedig doodgeskiet deur twee mans.

ADVERTISEMENT:
